Die olieprys het die afgelope week soos ’n donker wolk oor internasionale aandeelmarkte gehang en die lopie wat die vorige week byna op dreef was, kortgeknip.
Vrydag was ’n droewige dag vir die meeste markte.
Wall Street het die week met heelwat optimisme begin, veral ná bevestiging dat die dienstemark vir die eerste keer vanjaar gestyg het. Die olieprys en gerugte dat die Bank of America sy oorname van die verbandverskaffer Countrywide Financial Corp. heroorweeg, het egter ál drie die groot indekse negatief getref. Yahoo! het egter die nuus dat Microsoft sy koopaanbod van $48 miljard onttrek het, gevier met ’n styging van 14%.
Teen die middel van die week het die markte geskrik vir nuus dat die markowerheid SEC sy openbaarmakingswette vir finansiële instellings verder wil verskerp, onder meer deur aan te dring op die bekendmaking van kapitaal- en likiditeitsvlakke.
Dit kan ’n aanduiding wees van ’n stryd in die kongres oor planne wat die Demokrate in die mou voer om huiseienaars wat weens die subprima-krisis in die moeilikheid geraak het, te help. Van die Republikeine meen dat die plan beteken dat mense wat hul huislenings volgens erkende beginsels uitgeneem het, nou sal moet help om vir die kortsigtiges se foute te betaal.
“Die Amerikaanse mense wil nie hul bure se paaiemente betaal terwyl hulle moeite het om hul eie verpligtinge na te kom nie,” het mnr. Andy Neugebauer, ’n Republikein, volgens AP gesê.
Beleggers voel blykbaar dat dié soort politiekery net die herstel van die verbandkrisis kan vertraag.
Goeie nuus was dat die Amerikaanse handelstekort gedaal het tot $58,2 miljard. Maar daar was ’n angel in die stert, want ekonome het daarop gewys dat die laer tekort ontstaan het weens ’n verlaging van invoer en nie vanweë hoër uitvoer nie.
Oor die week het die Dow Jones-nywerheidsindeks met 2,4% gesak tot 12 746, die Nasdaq met 1,9% tot 2 446 en die S&P 500 met 1,3% tot 1 388.
In die Ooste het die markte meesal skeefgetrek. Japan is weer getref deur die hoë waarde van die jen teen die Amerikaanse dollar en die uitvoernadele wat dit inhou.
Afgesien van die olieprys bo $120 per vat wat sy ekonomie bedreig, was daar ook die slegte nuus dat die wêreld se grootste motorvervaardiger, Toyota, in sy vierde fiskale kwartaal ’n winsverlaging van 28% ondervind het. Dit was hoofsaaklik weens minder verkope in die VSA wat weer die probleme in daardie land beklemtoon. Die Nikkei het die week met 2,8% geval tot 13 655.
Die Hangseng-indeks in Hongkong het die week met 4,5% gedaal nadat sy twee grootste voedingsbronne, Shanghai en Wall Street, albei aansienlik gewissel en die olieprys ál hoër gestyg het. Shanghai het in ’n stadium gelyk of hy weer koers kry, maar inflasie in China bly onrusbarend hoog.
Australië het oor die week aansienlik hulp ontvang van die mynreus BHP Billiton en was die enigste van die markte in daardie streek wat veld kon wen. Sy hoofindeks het met 1,5% gestyg tot 5 844.
Europese beleggers moes die week rekening hou met hul sentrale banke se besluite oor rentekoerse. Soos verwag, het die Bank van Engeland en die Europese Sentrale Bank hul koerse onveranderd gehou, maar die hoof van die ESB, mnr. Jean-Claude Trichet, het wéér sy ernstige kommer oor inflasie uitgespreek. Die verwagting is nie dat daar gou weer verlagings sal volg nie.
In Londen het banke weer eens swak vertoon, maar kommoditeitsmaatskappye het gehelp om verliese te beperk. Donderdag, toe Barclays met 2,53% geval het, het BHP Billiton met 2,8% gestyg.
Oor die week het die Londense FTSE min verander en Vrydag op 6 205 gesluit. Die Franse CAC 40 het 2,2% verloor en die Duitse DAX 0,6%.
Van die mynaandele wat in Londen genoteer is, het BHP Billiton die week met 5,7% verbeter tot 1 983p en Rio Tinto met 4,8% tot 6 402p. Anglo American het met 0,8% teruggesak tot 3 384p.