Charles Naudé
Die verslag met aanbevelings oor Suid-Afrika se strategie vir ekonomiese groei deur ’n internasionale paneel kundiges bevat min wat so nuut is dat dit die aarde sal laat bewe.
Tog is dit ’n belangrike verslag, wat deel vorm van ’n proses wat Suid-Afrika ’n nuwe koers kan laat inslaan – en hom kan help om ’n stuk emosionele bagasie van die apartheidsverlede af te skud.
Dié verslag, wat verlede week uitgereik is, is gegrond op 20 stukke navorsing wat die afgelope drie jaar gedoen is. Die paneel van byna 30 akademici, onder voorsitterskap van prof. Ricardo Hausmann, direkteur van die Harvard-universiteit se sentrum vir internasionale ontwikkeling, doen in die verslag 21 aanbevelings oor strategiese aanpassings wat Suid-Afrika moet maak om sy ekonomie heelwat vinniger en volhoubaar te laat groei.
’n Groeikoers van minstens 6% is na raming nodig as die regering die doelwit wil haal wat hy in 2004 gestel het om teen 2014 armoede en werkloosheid te halveer.
Die eerste belangrike punt is dat die navorsing deur Suid-Afrika geïnisieer is – in 2005 deur die regering van pres. Thabo Mbeki, toe hy die inisiatief vir versnelde en gedeelde groei vir Suid-Afrika (Asgisa) aangeneem het.
Soos dinge deesdae gebeur, is dit ook positief dat die verslag bekend gemaak is, selfs al word daarin krities gesê dat die re?gering eintlik op die verkeerde koers is met sy huidige strategie en dat die gawe groei van die laaste paar jaar onvolhoubaar is.
Ten derde kan ’n mens ook dankbaar wees dat die regering die verslag en aanbevelings so ernstig opneem dat hy dit as grondslag vir ’n landwye debat wil gebruik, en dat hy oor sowat ’n maand ’n groot werksessie daaroor wil hou vir die Hausmann-paneel, regeringsamptenare, Suid-Afrikaanse akademici en ekonome, beleidsnavorsers en ander belanghebbendes.
Die paneel se aanbevelings kom baie kortliks daarop neer dat Suid-Afrika sy verbruikersgerigte ekonomie moet verander in ’n uitvoergerigte ekonomie, waardeur werk geskep word vir die mense wat die land het (die miljoene met min vaardighede), pleks van mense wat die land wens hy het.
Die realistiese doelwit moet wees om die getal van 13 miljoen werkendes met sowat 6 miljoen te vergroot, sodat nie net 42% van die mense van werk-ouderdom werk nie, maar sowat 60%, in ooreenstemming met dié in vergelykbare ontwikkelende lande.
Die meeste van die aanbe?velings kom eintlik neer op gesonde verstand.
Daarin lê miskien die grootste waarde van die verslag – dat dit kwessies wat as gevolg van Suid-Afrika se apartheidsverlede deur sterk emosies gekleur is, op ’n nugtere, logiese, akademiese wyse krities kan ontleed, met ’n geloofwaardigheid wat Suid-Afrikaners wat deur apartheid bevoordeel is, nie het nie.
In die verslag word byvoorbeeld die punt gemaak dat die emigrasie van hoogs vaardige wit mense gestuit en omgekeer moet word omdat hoogs vaardige mense nodig is om werk te skep vir mense met min vaardighede, en omdat ’n afname in vaardige mense die ongelykheid in inkomste vererger.
Ook word in die verslag gesê dat die huidige toepassing van swart ekonomiese bemagtiging tot gevolg het dat ’n groot behoefte geskep word vir voorheen benadeelde mense met hoë vaardig?hede, aan wie reeds ’n groot tekort bestaan.
Dit verklein die behoefte aan voorheen benadeeldes met min vaardighede en vergroot so die ongelykhede tussen dié wat het en dié wat nie het nie.
Die paneel beveel aan dat alle hoogs vaardige Suid-Afrikaners behou moet word en dat buitelandse immigrante met vaardighede gewerf moet word sodat meer werk geskep kan word vir mense met min vaardighede. Só word gedeelde groei behaal.
Oor swart bemagtiging beveel die paneel aan dat die klem verskuif word na bemagtiging van onder af deur werkskepping, leerlingskappe en ander opleiding aan te moedig; dat die vestiging van nuwe ondernemings aangemoedig word deur hulle te onthef van die vereiste om swart mede-eienaars te hê; en dat ’n sononder-klousule ingestel word om swart bemagtiging te beëindig wanneer sekere doelwitte bereik is.
Dit is standpunte oor sensitiewe en emosionele kwessies wat net gewig kan dra as dit óf van binne die regerende ANC óf deur onbetrokkenes soos die Hausmann-paneel gestel word.
Voorheen bevoordeeldes (wit mense) sal eenvoudig daarvan verdink word dat hulle dit sê om hul bevoorregte posisie te beskerm.
Die paneel se aanbevelings oor dié soort kwessies kan ernstig opgeneem word omdat dit klop met die ervaring van die laaste jare – dat te min vordering gemaak word met werk- en welvaartskepping vir die miljoene armes met min vaardighede, terwyl ’n betreklik klein groepie ryk swart mense al hoe ryker word.
Daaroor word reeds in die ANC se nuwe leierskorps bemoedigende geluide gemaak.
Met goeie leiding van binne, met behoorlike kommunikasie met alle rolspelers, en met die steun van die Hausmann-verslag van buite, kan die meeste Suid-Afrikaners die apartheidsbagasie van wantroue en verdeeldheid afskud. Dan kan hulle aanvaar dat die hoogs vaardiges en dié met min vaardighede, die rykes en die armes, die voorheen bevoordeeldes en die voorheen benadeeldes, die wittes en die swartes, mekaar nodig het en moet saamwerk om volhoubaar welvaart vir almal te skep.
Eers dán sal die inisiatief vir versnelde en gedeelde groei vir Suid-Afrika sy teikens kan haal.