“Ek kry gemengde boodskappe. Wat moet ek vir my lesers sê?”
Dít is die vraag wat ’n joernalis van Los Angeles in die VSA verlede week op die jaarlikse toerisme-indaba in Durban gevra het.
Sy het verwys na ’n video-insetsel in ’n mediabespreking wat kommer oor onder meer misdaad en kragonderbrekings as mites afgemaak het en in skerp teenstelling was met die waarskuwings van hotelpersoneel aan indaba-gangers dat dit te gevaarlik is om op die Durbanse strand te gaan stap.
Die indaba is een van die drie grootste toerisme-tentoonstellings ter wêreld en die grootste in Afrika.
Vanjaar se indaba het daarop gefokus dat internasionale toeroperateurs besprekings sowat 18 maande vooruit doen en dus nou besluite neem met die oog op toerpakkette en brosjures vir 2010.
SA Toerisme, wat die indaba aanbied, het dus die rekordgetal van 13 200 afgevaardigdes, wat 175 buitelandse en 446 plaaslike joernaliste ingesluit het, verseker dat Suid-Afrika gereed sal wees om die Wêreldbeker-sokkertoernooi in daardie jaar aan te bied.
Dit sou maklik wees om te midde van die oorweldigende kaleidoskoop van stalletjies, aanbiedinge en prente van leeus en olifante dít mis te kyk wat ontbreek het om die indaba ’n suksesvolle toonvenster van die Wêreldbeker-sokkertoernooi 2010 te maak: Een duidelike boodskap.
Misdaad en kragonderbrekings is ’n werklikheid vir die inwoners van Suid-Afrika en besoekers aan die land.
Toeroperateurs en joernaliste meng met ’n groot verskeidenheid mense op alle vlakke van die samelewing en om dit voor hulle as ’n mite af te maak, is eenvoudig ’n dom strategie.
Boonop word die joernaliste vertel dat gesaghebbende Suid-Afrikaanse koerante dié mites versprei en nie geglo moet word nie, maar dat die politici en organiseerders wat ’n persoonlike belang by die toernooi het, eintlik die waarheid praat.
Dink hulle regtig ervare buitelandse joernaliste sal dít vir soetkoek opeet?
Hotelpersoneel met wie indaba-gangers elke dag te doen gekry het, was boonop só bang dat een van die gaste iets sal oorkom, dat hulle geen geleentheid laat verbygaan het om hulle daarteen te waarsku om alleen op die strand te stap, geld by ’n kitsbank te trek of gou apteek toe te stap nie.
’n Mens kan aan die een kant die houding van die hotelpersoneel verstaan.
Verlede jaar is ’n sanger wat by ’n indaba-geleentheid opgetree het en die joernalis wat hom vervoer het, ná die geleentheid met wapens gedreig en van hul voertuig en bagasie beroof. Dié voorval is destyds tjoepstil gehou, maar die indaba is soos ’n familiebyeenkoms in die toerismebedryf en ou kennisse wat mekaar elke jaar raakloop, het gou dié nuus versprei.
Die uitstallers was waarskynlik nog besig om hul stalletjies op te pak toe die nuus breek dat ’n vrou op die strand verkrag is. Sy was blykbaar nie ’n indaba-ganger nie.
’n Mens kan verstaan dat toerisme- en sokkerbase stoei met openbare skakelwerk oor Suid-Afrika se misdaad- en ander probleme, maar om dit te probeer afmaak as mites, lei bloot daartoe dat hulle geloofwaardigheid verloor.
Dít wat hulle wel sê wat die moeite werd is, word dan saam met die res deur hul gehoor as onbetroubaar verwerp.
Gereedheid van gasheerstede
Me. Sibongile Mazibuko, Johannesburg se uitvoerende direkteur vir 2010, het indaba-gangers deeglik ingelig oor dié stad se vordering met sy voorbereiding vir die toernooi.
Sy het baie besonderhede verskaf en gepraat sonder om doekies om te draai oor die uitdagings. ’n Mens kon haar glo en sy het vertroue ingeboesem.
Kollegas wat eThekwini (Durban) se spesiale voorlegging bygewoon het, het gesê dit was van dieselfde gehalte en het ’n besoek aan die halfklaar Moses Mabhida-stadion ingesluit.
Cape Town Routes Unlimited het hom ook goed van sy taak gekwyt en interessante en toepaslike navorsing bekend gemaak.
Maar waar was Tshwane? En Port Elizabeth? Bloemfontein? Rustenburg? Nelspruit? Polokwane?
Die stilswye van dié stede op die indaba oor hul gereedheid vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi is kommerwekkend.
Sakelui in die toerismebedryf gaan grootliks bepaal hoe sokkergeesdriftiges die Wêreldbeker-sokkertoernooi ervaar.
Hulle is die hoteliers en eienaars van gastehuise wat besoekers moet huisves en kosgee, die operateurs wat moet sorg vir busvervoer en in die algemeen verantwoordelik is vir die logistiek wat die byeenkoms suksesvol gaan laat wees, al dan nie.
Meer as 90% van die toerismebedryf bestaan uit klein ondernemings en dit is moeilik om effektief met almal in die bedryf te kommunikeer oor reëlings vir die toernooi.
Hoewel bedryfsliggame baie doen om hiermee te help, het sakelui nog baie vrae oor Fifa se reëls en reëlings.
Indaba is die een plek waar dié sakelui bymekaar is en die ideale geleentheid vir Fifa om met hulle te kommunikeer.
Tog het mnr. Danny Jordaan, voorsitter van die plaaslike reëlingskomitee opgedaag om die media in te lig oor “mites” soos misdaad en kragonderbrekings, maar Fifa en sy komitee het nie eens ’n stalletjie gehad waar sakelui in die toerismebedryf hulle vrae kon gaan stel nie. Dis ’n jammerte.
Die Wêreldbeker-sokkertoernooi kom skrikwekkend vinnig nader. Wat nou nodig is, is eenvormige, duidelike en volgehoue en eerlike kommunikasie. Een gulde geleentheid daarvoor, het egter pas verby gegaan.