Joanita Cillié,
“A million thrills, one destination.”
Só lui die nuwe Sun International-slagspreuk.
Die gesig van die bemarkingsveldtog is niemand anders nie as die Suid-Afrikaanse Oscar-wenner, ons eie “goue meisie” van Benoni, Charlize Theron.
In die advertensie ry Theron van ’n duidelik Amerikaanse filmstel deur ’n laning bome na haar eindbestemming – die hotelle van Sun International.
Jy sien haar in die swembad, by die roulettetafel, hoe sy boerewors eet en in ’n lugballon oor die Victoriaval sweef.
Sy vertel jou hoe dit die een plek is waar sy haarself kan wees – ’n plek sonder ’n filmteks, waar sy self besluit wat om aan te trek en kan eet wat sy wil.
Werklik? Hoeveel het dit Sun International uit die sak gejaag om haar hierdie woorde voor ’n kamera te laat sê?
Met ’n veranderende bemarkingslandskap en verbruikers wat toenemend krities is, is ’n bemarkingsveldtog met ’n hele paar nulle agterna ’n gevaarlike kragspel.
Mnr. David Coutts-Trotter, uitvoerende hoof van die Sun International-groep, het by die bekendstelling van die advertensieveldtog laat blyk dat die posisionering van ’n Suid-Afrikaanse ikon soos Sun Interna?tio?nal ’n groot uitdaging ingehou het.
“Hoe bring jy ikoniese hotelle, reservate en casino’s onder een moederhandelsmerk saam terwyl hul individuele aard behoue bly? Dié uitdaging het ’n nuwe korporatiewe belofte vir Sun International ingehou,” staan in ’n persverklaring.
’n Groter uitdaging was om die regte gesig vir die veldtog te vind, meen Coutts-Trotter.
Ogilvy, die advertensie-agentskap agter die veldtog, het geglo dat Theron die betowering van die handelsmerk kan vasvang en daaraan lewe kan gee.
“Theron was nie slegs in staat om die belofte en opwinding van dobbelary uit te beeld nie, maar ook die grasie en sensualiteit van die oorde,” het me. Nunu Ntsingila, uitvoerende hoof van Ogilvy Suid-Afrika, by die bekendstelling gesê.
“Ons is baie gelukkig met die reaksie op die handelsmerkveldtog,” sê Coutts-Trotter nou, ’n paar weke nadat die eerste advertensie uitgesaai is. Volgens hom is hulle veral ingenome met die mediadekking. “Dit is egter nie ’n geval van onmiddellike resultate nie,” sê hy.
“Ek glo die geskiedenis van die advertensiebedryf is een van oorlading en dis ’n groot probleem. Ons advertensieveldtog was ’n waagmoedige skuif om ’n groot idee te kry wat uitstaan.
“Fundamenteel voel ons dit is iets wat sal uitstaan. Dit is ’n volle veldtog wat oor die hele media-spektrum gebruik sal word – ’n 360-grade-veldtog.”
Mnr. John Cooney, direkteur van die Red & Yellow-advertensieskool, meen dat die advertensiebedryf ’n definitiewe verandering ondergaan as gevolg van gehore wat self besluit wat hulle wil sien of hoor. Dié verskynsel is veral sigbaar op TV, waar advertensiegehore kleiner word aangesien programme deesdae opgeneem word (op video/DVD) en advertensies dan nie gekyk word nie.
Hoewel die Sun International-veldtog uit baie meer dele bestaan, is dit veral die TV-advertensies wat die aandag sal trek. “Ek meen TV kan goed werk,” sê Cooney. “Dit is ’n glans-handelsmerk en Theron is baie bekend. Sun International is ’n leefstylhandelsmerk en dít is die soort produk wat meestal beter slaag met bemarking van dié aard.”
Hoewel die hoofelemente van bemarking nog dieselfde is, moet die hoofde van ondernemings die vinger deesdae meer as ooit tevore op die pols van ?kliënte hou.
Volgens mnr. Jason Levin, besturende direkteur van HDI Youth Marketeers, ’n spesialis-jeugbemarkingsmaatskappy, is die onafhanklike verbruiker nog nie só sigbaar in Suid-Afrika nie. Onafhanklikheid begin egter vinnig kop uitsteek by die jeug, wat verbruikers uit eie reg is.
Volgens Levin is dit dikwels die vermaakaspek wat volgelinge lojaal hou aan ’n handelsmerk. Maar sodra ’n produk dié belangrike element van sy handelsmerk-DNS verloor, verloor hy ook volgelinge.
Dit is iets wat hy veral by die aankope van koeldrank opmerk. “Hoewel baie kinders deesdae eerder gebottelde water of vrugtesap verkies, koop hulle Coke danksy die vermaakaspek daarvan,” meen hy.
Volgens hom moet ’n handelsmerk soos Coca-Cola dus baie spesifiek wees in sy bemarkings- en advertensieveldtogte.
Uit ’n praatjie van mnr. Frank van der Heijden van Coca-Cola in Wene op ’n Deloitte-beraad oor voedsel en drank, kom dié eienskap van Coke ook na vore in sy verbintenis met sokker.
Coca-Cola is tot en met 2022 een van Fifa se amptelike borge. Heijden was aan die stuur van die 2006-Wêreldbeker-sokkerborgskap, die Euro-sokker?bekertoernooi in 2004, en nou ook die een van 2008.
Al die sakke vol geld en beplanning wat in dié byeenkomste ingaan, is beslis die moeite werd.
“Sodra jy besluit om dit te doen, sit jy groot geld op die tafel . . . en jy maak seker dat jou kliënte bewus is daarvan.”
Mense wat sokker kyk, drink dikwels Coke. As die element van sokker uit Coke geneem word, sal baie Coke-drinkers verloor word.
Deur Theron in te sluit by die Sun International-veldtog, wat die glans, sowel as die plaaslike element van die groep voorstel, is op meer as een manier briljant. Die vraag bly egter: hoe gaan die gehoor reageer?
Plaaslik wéét Suid-Afrikaners hoe min Theron in die land is. Dié kuiertjies is so skaars soos hoendertande. Sal haar woorde in die advertensie hulle enigsins beïnvloed en laat stroom na dié bedrywighede?
Uit onlangse finansiële resultate van Sun International blyk dit dat die druk op besteebare inkomste ’n duidelike gat in die inkomste van casino’s maak. Gaan die advertensie meer mense laat dobbel?
As jy na die oorspronklike beweegrede vir die veldtog kyk, was dít in elk geval nie die doelwit nie. Dit is ontwikkel om alle dele van die groep onder een sambreel te plaas.
Die feit is dat die nuwe voorkoms op almal se lippe is, almal die “one destination”-slagspreuk saam met hul gunsteling-Suid-Afrikaanse ster sien, een so eie aan die huis soos Sun International self. Dié boodskap word aan almal oorgedra – ongeag wat hulle daarvan dink.