In die Boland is akkerbome ’n emosionele saak. Toe die buitelugkunstenaar Strijdom van der Merwe die eike van Stellenbosch se historiese Dorpstraat die hele Julie 2008 in helderrooi lappe toegewikkel gehad het, het plaaslike gemoedere en penne aktief geraak. Party skrywers in die briewekolom van die Eikestadnuus, ’n plaaslike streekkoerant, was besorg dat die eekhorings dalk nie meer hulle gate sou kon vind nie, ander was bevrees dat vernietigende virusse onder die lappe sou kon floreer, en selfs die soeke na ’n gepaste digwerk om die gebeurtenis te gedenk, het stryd ontlok. Die vox populi het egter oorweldigend met flitsende kameras ten gunste van die kunswerk gestem.
Bolandse eike is egter gewoond aan die kollig. Bykans 60 jaar gelede, toe Afrikaans nog sterk gestaan het in ons regspraak, het ’n uitspraak van die hoogste hof in die land afgeskop met die volgende sin deur appèlregter O.H. Hoexter: “Voor die Volkskasgebou in Voortrekkerstraat, Ceres, staan daar drie akkerbome.” Oor genoemde drie bome is heelpad van die Kaapstadse hooggeregshof tot in die Bloemfonteinse appèlhof gestry. In die proses het die bome ’n punte-oorwinning behaal in die oënskynlik ewigdurende stryd tussen hulle en boomafkappende ontwikkelaars.
In die jaar 1950 was die eienaar van die gebou waarin die destydse Volkskas Bank sy sake in Ceres bedryf het, die rustende boer David Gerhardus Malherbe. Malherbe was daaroor beswaard dat die drie eike se blare verstoppings in sy gebou se geute veroorsaak, wat dan tot klamheid in die mure gelei het. Die bome was op die sypaadjie voor die gebou, ongeveer vyf meter weg, en die eienaar van die sypaadjie was die munisipaliteit. Malherbe het verder beweer dat die bome se wortels ook die fondament en mure beskadig. Kortom, mnr. Malherbe was nie ’n boomvriend nie. Hy het geëis dat die bome verwyder word.
Dit was groot toenmalige regskanonne wat vuur oor die drie bome uitgeruil het. Twee latere appèlregters (P.J. Wessels en M.A. Diemont) het vir die twee kante opgetree, met die latere Kaapse regterpresident Theo van Wyk as hoofwoordvoerder vir Malherbe. Malherbe se eerste neerlaag ly hy voor die gesiene regter C. Newton Thompson in Kaapstad, terwyl die appèlhof se bank van drie regters hoofregter C.J. Centlivres as voorsitter gehad het.
Malherbe het hom beroep op die eeue oue beginsel dat die eienaar van ’n stuk grond weliswaar enigiets wat hom behaag op sy eiendom mag doen, solank hy nie daardeur sy bure in die uitoefening van húl eiendomsreg steur nie. Hy het beweer dat die munisipaliteit se bome inmeng in sy gebruik van sy gebou.
Sowel die Kaapse hof as die appèlhof het taamlik korte mette met Malherbe se saak gemaak. ’n Mens is eintlik verbaas dat Malherbe en sy span voorste advokate kon gedink het dat hulle ’n kans op sukses in Bloemfontein sou hê. Tussen die lyne kan ’n mens lees dat dit in een van daardie “beginselgevegte” ontaard het waar dit meer om ego as om goeie oordeel gaan, soos so dikwels in veral twiste tussen bure gebeur.
Voor die appèlhof gee Malherbe toe sy klag oor steurende wortels prys omdat ’n feitelike grondslag daarvoor ontbreek het. Die hele twis het dus op die ou end gedraai om die blare, wat volgens die hof in twee kategorieë ingedeel moes word. Eerstens is daar die blare wat afkomstig is van takke wat oor Malherbe se grens hang en dus direk op die dak val. En dan die ander blare wat elders val en daarna in die geute inwarrel.
Die munisipaliteit het aangebied om die oorhangende takke af te saag, maar dit was nie vir Malherbe aanvaarbaar nie, al het die Kaapse hof dit deel van sy bevel gemaak. Hy wou opsluit hê die bome moes in die geheel weg. Die appèlhof kan sy standpunt hieroor nie verstaan nie en noem sy versoek hieroor potsierlik.
Die “warrelende” blare is die finale geskilpunt. Met verwysing na swaarwigtige Romeinsregtelike gesag oor die burereg, soos weergegee deur onder andere die beroemde 19de eeuse Duitse juris Bernard Windscheid, bevind appèlregter Hoexter dat ’n grondeienaar redelike gebruik deur ’n buurman moet aanvaar, al veroorsaak dit ’n mate van steurnis. Dit sluit in dinge soos rook, stoom, stof en ander gevolge van die normale gebruik van die betrokke stuk grond.
Hy vat dit so saam: “Die opvatting dat daar tussen bure ’n mate van verdraagsaamheid verwag word in die uitoefening van hul eiendomsregte, strook allesins met ons regsgevoel.” Dan die konklusie: “Die getuienis lewer afdoende bewys dat daar geen sprake kan wees van enige buitengewone gebruik van Voortrekker-straat deur die respondent (munisipaliteit) nie. Inteendeel. Die plant van akkerbome langs die strate van dorpe en stede in die Westelike Provinsie word as die gewone en natuurlike gebruik van daardie strate beskou . . . As die respondent giftige bome geplant het . . . sou die vraag van buitengewone gebruik ontstaan.”
Die laaste spyker in die kis is die bevinding dat warrelende blare ’n natuurlike gevolg van die gewone gebruik van die straat deur die munisipaliteit is. Die blare as sulks veroorsaak geen merkbare skade nie en “die skade waaroor die appellant (Malherbe) kla, is te wyte aan sy weiering om jaarliks die som van 16 sjielings te bestee aan die skoonmaak van die geute van die Volkskasgebou”.
Waarom word dié boomtwis van ’n halfeeu gelede in die jaar 2008 uit die sloot gegrawe? Eerstens omdat dit toon dat menslike geskille deur die eeue dikwels maar dieselfde bly. Tweedens gaan twiste tussen bure in ’n steeds enger wordende wêreld waarskynlik meer, eerder as minder, word. Maar die belangrikste rede is dat die verhaal bewys dat bome kan wen, selfs in ons land waar “malls” blykbaar voorrang bo alles geniet en waar die natuur gedurig voor die aanslae van sogenaamde ontwikkeling moet swig.
Soos appèlregter Hoexter dit in sy uitspraak gestel het: “Maar akkerbome is net so skadeloos as wat hulle skaduryk en sierlik is.”
- Prof. Van Wyk, ’n regsgeleerde, is oud-rektor van die Universiteit van Stellenbosch.