Skoolonderrig in Suid-Afrika is in ’n diep krisis. Dit het nouliks enige betoog nodig, want die getuienis, van allerlei aard, is oorweldigend.
Waarom is dit so belangrik dat dit reggeruk word?
Sedert 1994 is dit ons kollektiewe en oorheersende morele projek om ’n goeie samelewing te bou, een wat op twee grondwaardes gebou is, naamlik vryheid en gelykheid.
Eerstens, vryheid is ons vermoë om moontlikhede vir onsself te voorsien én te verwesenlik. Vryheid is die ontwikkeling van ons menslike po?ten- ?siaal. Sien ek myself as programmeerder of messelaar? En kan ek my keuse uitleef?
Vryheid vereis van die maatskaplike orde dat bemagtigende voorwaardes vir ontwikkeling ingestel is en dat belemmerings verwyder word. Sonder materiële goedere, onderwys, gesondheidsorg, veiligheid en sekuriteit, of politieke mag word ons menslike potensiaal gekniehalter en is ons ongenoegsaam vry.
Tweedens, gelykheid – of geregtigheid – beteken dat hierdie gemeenskapsvoorwaardes vir menslike ontwikkeling vir almal op ’n regverdige wyse toeganklik is. Gelykheid be?teken nie identiese uitkomste soos rykdom nie, maar ewe?redige kanse vir ontwikkeling.
Kortom, die goeie same?lewing stel die voorwaardes vir die ontwikkeling van menslike potensiaal in. Onderwys is sekerlik die belangrikste hiervan.
Diere is fisiologies en verstandelik gespesialiseerd om byvoorbeeld te jag of te wei. In kontras met die dier se klou of hoef staan die mens se hand letterlik oop vir enigiets. Die troffel, pen of rekenaar word die verlengstuk van die menslike hand en verstand.
Maar gemeet aan die gehalte van ons skole, veral in swart en arm gemeenskappe, is dit asof ons politici en amptenary onverskillig staan teenoor die elementêre, maar diepgaande waarheid dat ontwikkeling van potensiaal onder?wys van gehalte verg.
Ná byna 15 jaar van ANC-regering is die tragedie dat vordering op onderwysgebied voortaan gemeet sal moet word aan die mate waarin die ANC van sy eíe erflating, eerder as dié van apartheid, bevry word.
Sedert 1994 kon ’n hele geslag jong mense slegs ’n fraksie van hul potensiaal ontwikkel. Dit gaan nog jare by ons bly spook.
In geletterdheid en wiskunde is ons ver agter ontwikkelende lande én die meeste Afrika-lande. In 2003 het ’n swart skoolkind slegs ’n 28%-kans gestaan om graad 12 te slaag. Terwyl wit kinders in 2003 ’n kans van een uit tien gehad het om ’n A-gemiddelde te kry, kon slegs een uit 1 000 swart kinders dit vermag.
’n Skokkende erkenning van die depressiewe toestand van ons skole is dat die sakevrou me. Wendy Luhabe en die akademikus dr. Mamphela Ramphele sê dat “Bantoe-onderwys” onder apartheid hulle beter toegerus het as wat daardie selfde township-skole kinders wat in vryheid gebore is, tans toerus.
Kortom, dis die ANC wat die waardes van sy eie vryheidstryd verloën het en moet “transformeer” om die belange van gewone mense te dien.
Wat moet – en kan – ons aan hierdie onreg van ontmagtiging en gebrek aan ontwikkeling doen? Hoe kan ons kinders weer laat spel en tel?
Verskeie instansies moet by die oplossing betrek word, maar een ding is seker: Onderwysers moet weer klas gee. Soos prof. Jonathan Jansen dit stel: Ons het weer rolmodelle nodig soos die middeljarige wit vroue wat die toonbeeld van toewyding was.
Die regering moet leiding neem, maar ophou peuter met skole wat werk. Bemoedigend is dat die ANC onlangs ’n veldtog geloods het om gehalte-onderwys vir almal ’n nasionale prioriteit te maak.
Dit ontbreek egter nog aan praktiese inhoud.
Enige oplossing verg helder en gesamentlike denke oor al die faktore wat gehalte-onderwys belemmer, binne en buite skole.
Onlangse navorsing deur die Etiek-instituut dui daarop dat geweld in die gemeenskap, geweld en afknouery in skole, diefstal in skole, dwelms, en tienerswangerskappe die grootste struikelblokke in die pad van waarde-onderrig in skole is.
Swart respondente ervaar hierdie sosio-ekonomiese faktore drasties erger as hul wit kollegas. Beduidend is dat wit én swart respondente rassisme as veel minder van ’n kwessie sien.
Wat ook al die oplossing, onderwysers se professionaliteit en toewyding is ononderhandelbaar. Gevalle van onderwysers wat geen behae daarin het om hul vaardighede te verbeter nie, wat in sjebiens rondlê gedurende skooltyd of gewoon nie by die skool opdaag nie, wat leerlinge toegangsgeld vra om rekenaarsentrums te gebruik, of wat seks met hul leerlinge het, is tog totaal buite orde.
Leierskap deur skoolhoofde is onontbeerlik. Daar is pragtige voorbeelde van skole wat eilande van uitnemendheid te midde van ’n see van armoede en geweld is.
Dis byna altyd ’n geval van ’n skoolhoof wat as leier na vore tree, grense vir aanvaarbare gedrag vasstel én afdwing, en aktiewe samewerking en die gemeenskap se ondersteuning kry. En hul leerlinge slaag.
Kortom, die ANC het ’n morele plig om ’n koalisie met die private sektor, burgerlike samelewing en plaaslike gemeenskappe te vorm om ons meer as 20 000 disfunksionele skole te red en ons kinders se potensiaal te ontwikkel.
Misluk dit, is ’n verloornasie ons voorland.
Dr. Landman is uitvoerende hoof van die Etiek-instituut van Suid-Afrika en buitengewone professor aan die Universiteit van Stellenbosch.