Klein beleggers hou daarvan om soms na sogenaamde stuiwer-aandele op die alternatiewe beurs (AltX) – ’n afdeling van die JSE se hoofbeurs – te loer. Daar is niks mee verkeerd nie, maar wees baie versigtig.
Die AltX is ’n parallelle aandelemark wat fokus op klein en middelslag-maatskappye van goeie gehalte wat die moontlikheid van sterk groei bied.
Die meeste van die aandele op die AltX is ongelukkig nie baie likied nie en verhandel relatief min. Heelwat van die maatskappye betaal ook nie altyd dividende nie en verkies eerder om dit in die maatskappy terug te ploeg vir toekomstige groei en uitbreiding.
Van die 77 maatskappye op die AltX is sowat 20% konstruksiemaatskappye en verskaffers van materiaal met ’n totale markwaarde van R26,5 miljard.
Wat die konstruksiesektor betref, word geraam dat die sektor minstens nog sowat tien jaar se groei in hom het voor die volgende afswaai.
Die rede daarvoor is deels ’n gebrek aan nywerheidsontwikkeling sedert 1994. Van 1997 tot 2005 is relatief min bestee aan infrastruktuur, wat beteken dat Suid-Afrika sowat tien jaar agter is. Om dit reg te stel, behoort daar tot sowat 2018 ’n sterk fokus op die ontwikkeling van infrastruktuur te wees.
Hou egter in gedagte dat die konstruksiesektor baie siklies van aard is, wat vooruitskattings bemoeilik. Nog ’n negatiewe faktor is die tekort aan vaardighede in die bedryf, terwyl stadiger groei in die ekonomie ook sy tol sal eis.
Daar is nietemin ’n paar aandele waarna beleggers kan kyk. Omsigtigheid bly egter die wagwoord en deeglike huiswerk is nodig.
B&W Instrumentation and Electrical (B&W) is ’n elektriese en konstruksiemaatskappy wat aanlegte volgens kliënte en kontrakteurs se spesifikasies oprig. Die groep het meer as 33 jaar se ondervinding in die bedryf.
Die maatskappy is tans fundamenteel ondergewaardeer, met ’n bewegende prys-verdienste-veelvoud van 8,3, ’n prys-verdienste-veelvoud in verhouding tot groei-vooruitsigte van 69 en ’n prys-netto batewaarde-veelvoud van 3,8.
B&W se tegniese grafiek toon egter dat sy aandeelprys bo sy bewegende gemiddeldes is, terwyl die tendens bulagtig lyk.
Hoewel dit tegnies oorgekoop lyk, is daar nie tekens dat die aandeel verkoop behoort te word nie.
Beleggers wat die aandeel in hul portefeulje het, kan dit dus nog hou.
Esor is ’n onafhanklike geotegniese ingenieursmaatskappy in die swaarkonstruksiesektor wat dienste aan kliënte in die konstruksiesektor lewer.
Die maatskappy is tans billik gewaardeer, met ’n bewegende prys-verdienste-veelvoud van 10,4 en ’n prys-netto batewaarde-veelvoud van 3,5.
Sy tegniese grafiek toon dat die aandeelprys tans bo sy bewegende gemiddeldes in ’n korttermyn-bullopie verkeer. Tegniese aanwysers toon egter dat die aandeel teen huidige vlakke aansienlik oorgekoop is.
Beleggers behoort eers te wag vir winsneming en die gevolg?like insinking in die aandeelprys tot sowat 533c voordat aankope gedoen word.
Wearne is ’n verskaffer van beton en betongruis, terwyl sowat 20% tot 39% van sy produkte na die residensiële mark gaan.
Die maatskappy word fundamenteel as ondergewaardeer beskou, met ’n bewegende prys-verdienste-veelvoud van 6,8 en ’n prys-netto batewaarde-veelvoud van 1,3. Sy tegniese grafiek toon dat die aandeelprys in ’n langtermyn-beerfase is, terwyl die prys onder sy bewegende gemiddeldes verkeer.
Die tegniese aanwysers toon dat die aandeel aansienlik oorverkoop is, met geen duidelike tekens dat die aandeel gekoop kan word nie.
Die aandeel kan dopgehou word vir enige verandering in rigting.
Daar was onlangs ’n duidelike afname in kleiner konstruksie-projekte van tussen R20 miljoen en R30 miljoen, wat veral druk op kleiner kontrakteurs plaas. Baie van hierdie kleiner kontrakteurs word egter by groter projekte betrek.
Toestande in die konstruksiebedryf kan tans as stram beskryf word, maar daar is nietemin goeie geleenthede vir die belegger wat bereid is om sy huiswerk doen.
Van den Berg is tegniese hoofontleder van PSG Online.