Die aandelemark is nog wisselvallig – die een dag op en die ander dag af. Een van die vernaamste redes hiervoor is dat die indeks van die top-40-aandele swaar gelaai is met hulpbronverwante aandele.
Die daling in grondstofpryse noop beleggers om dié aandele te verkoop. Terselfdertyd het die goudprys van ’n rekordvlak van $1 032 tot minder as $800 gedaal. Die platinumprys het van $2 299 tot sowat $1 380 geval en die olieprys het van $147 tot sowat $105 teruggesak.
Sedert einde Mei het die JSE se indeks van alle aandele ’n insinking beleef namate daar ’n be?weging uit hulpbronaandele, ook goud- en platinumaandele, was.
In Julie was daar ’n skerp opwaartse beweging in die finansiële sektor. Veral banke, versekeraars en die genoteerde-eiendom?sektor het goed vertoon. Dit lyk dus asof die institusionele fondse ’n tuiste vir hul beleggings gevind het. Maar wat van die nywerheidsektor?
As ’n mens na die relatiewe sterkte van die onderskeie sektore teenoor die JSE se indeks van alle aandele kyk, oftewel wie beter vaar as die mark in sy geheel, is daar ’n lang lys wenners.
Hieronder tel die finansiële en nywerheidsektore, asook klein en middelslag-maatskappye. Die aksie vind egter by banke, chemikalieë, konstruksie, voedsel, algemene kleinhandelaars, die media en ondersteuningsdienste plaas.
Die verloorders relatief tot die mark is hoofsaaklik die goud- en platinummaatskappye, asook ander in die hulpbronsektor.
Hoewel die finansiële sektor oorgekoop lyk, is daar ruimte vir die banksektor om verder te styg. Die nywerheidsektor het ook pas tot in oorgekoop-gebied beweeg, met heelwat ruimte om verder te styg.
Hier lyk die konstruksiesektor stewig oorgekoop en hy behoort binnekort weens wins?neming terug te sak.
Kleinhandelaars sowel as die mediasektor is besig om van vorige oorgekoop-situasies te herstel, terwyl die voedsel- en medisyne-sektor ondanks hul oorgekoop- situasies die potensiaal vir verdere stygings het.
Voedselprodusente is ook oorgekoop en sal na verwagting ’n insinking begin toon namate winsneming intree. Die grafiek toon hoe sake met kleinhandelaars daar uitsien.
Hoewel die wisselvalligheid in die mark vooruitskattings op kort termyn bemoeilik, kan beleggers goeie geleenthede uitsnuffel as hulle tyd bestee aan die bepaling van die primêre en sekondêre siklusse in die mark.
)
Van den Berg is PSG Online se tegniese hoofontleder.
,
’n Oorgekoopte aandeel is een waar ’n groot aantal beleggers waarde in die aandeel gesien en in groot volumes aandele aangeskaf het.
Dit druk die prys hoë?r en kan meebring dat die prys terugsak sodra die vraag na die aandele afneem.
Die teenoorgestelde is oorverkoop, waar talle beleggers oor ’n kort tydperk hul aandele verkoop en meebring dat die prys laer is as wat dit sou gewees het as die beleggers hul aandele gehou het.