Beskou dit as ’n nuwe stokperdjie van die wêreld se super-rykes.
’n Engelse sokkerklub verskyn deesdae kort-kort op die inkopielysies van diesulkes wat ’n miljard rand of twee kan afknyp om ’n eie belang in een van die wêreld se gewildste en duurste sportligas, eens die versinnebeelding van die Engelse werkersklas, te besit.
Hoewel die meeste van die transaksies soos ’n suiwer finansiële belegging lyk waar die belegger op lang termyn dividende wil ontvang, is daar ook gevalle waar dit lyk asof die eienaar sy klub eerder as ’n verlenging van sy persoonlike ego bestuur as dat hy hom oor winsmarges bekommer.
So het ’n sogenaamde konsortium van Suid-Afrikaanse beleggers verlede week die Engelse koerantopskrifte gehaal as die moontlike kandidate om die nuwe eienaars van Newcastle United, in die noord-ooste van die land, te word.
Dié klub, met ’n droewige prestasiegeskiedenis wat waarskynlik met dié van die Leeus in Suid-Afrikaanse rugby vergelyk kan word (maar ’n fanatiese ondersteunersbasis het wat kan kers vashou by dié van die Springbokke) is verlede maand in die mark geplaas. Sy huidige eienaar, mnr. Mike Ashley, het gemeen dit is te dik vir ’n daalder dat van sy eie miljoene in die klub opgesluit lê terwyl die polisie hom aanraai om ter wille van sy eie veiligheid nie wedstryde by te woon nie.
Die sakemanne wat aanvanklik as die dryfvere agter die Suid-Afrikaanse konsortium uitgewys is, is die Richemont-voorsitter mnr. Johann Rupert, die Bidvest-hoof mnr. Brian Joffe, en mnr. Vivian Imerman, hoof van die Skotse whisky-maatskappy Whyte and Mackay. Rupert het sedertdien laat weet dat rugby en krieket meer in sy smaak val, terwyl die kantore van Joffe sowel as Imerman ook duidelik te kenne gegee het hulle weet niks van dié bod nie.
Terwyl die Newcastle-ondersteuners se opgewondenheid oor die moontlikheid van hierdie bod begin taan het (een het die aanvanklike gissings op ’n BBC-besprekingsblog as “musiek in sy ore” beskryf), het Ashley laat weet enige voornemende bieër moet teen môre sy naam in die hoed gooi. Daar is glo ook ses ander belangstellendes, onder meer vanuit die VSA en Nigerië.
Ashley self het Newcastle eers in die middel van 2007 oorgeneem toe hy volgens die BBC ₤250 miljoen betaal het vir die volle eienaarsbelang en die delging van die klub se uitstaande skuld. Nadat hy so onlangs soos Januarie planne bekend gemaak het waarvolgens Newcastle die grotes soos Chelsea en Manchester United op ’n gelyke voet sal aandurf, het ondersteuners in groot getalle verlede maand dit duidelik laat blyk die “Cockney Mafia” (met verwysing na Ashley en ’n direkteur, Denis Wise) moet padgee uit Newcastle. Volgens die BBC sal Ashley tevrede wees indien hy ₤300 miljoen in sy sak kan steek (dus ₤50 miljoen wins vir die jaar en ’n half se ongemak).
Ashley se kortstondige heerskappy by Newcastle moet dit duidelik vir enige nuwe eienaar maak dat hy twee keer sal moet dink voordat hy as ’n buitestander sy kop in die byenes van Engelse sokkerondersteuners indruk.
Ashley was self voor sy Newcastle-oorname geensins verbind met Engelse, of Newcastle- sokker nie.
Hy het sy geld gemaak uit sportklere-kleinhandel en waarskynlik eers die kontant vir sy Newcastle-transaksie bekom uit die notering van sy winkelgroep in Februarie 2007 (hy het nagenoeg ₤929 miljoen só verdien).
In sport tel emosies soms baie meer as logika. So het Ashley se idee van ’n volhoubare onderneming nie aanklank gevind by ondersteuners wat eerder wou sien dat groot geld uitgehaal word om die sport se groot name na die klub te lok nie.
Voorts het Ashley se idee van aanklank soek by die ondersteuners ook die teenoorgestelde uitwerking gehad. Aanvanklik het hy sy presidentslosie verruil vir ’n sitplek tussen die skare in ’n spelershemp van die klub.
Dit was alles goed en wel totdat hy op ’n dag afgeneem is waar hy ’n bier gesit en drink het. “Cool”, hoor ’n mens Suid-Afrikaners dink, maar volgens mnr. Steve Wraith, redakteur van ’n Newcastle-ondersteunerstydskrif, het hy die aansien van die klub só groot oneer aangedoen (gedurende sy onderhoud met Sake24 sê Wraith hy kan nie namens Newcastle-ondersteuners praat nie, maar verwys dan telkens na “ons” in sy relaas teen Ashley).
Enige nuwe eienaar sal ook moet kan meeding met die diep sakke van bv. ’n Russiese oliegarg (Roman Abramovich, die eienaar van Chelsea, was tydens sy oorname van dié klub in 2004 reeds ₤7,5 miljard-sterk) of ’n Midde-Oosterse beleggingsgroep (die Abu Dhabi United Group, wat pas die oorname van Manchester City afgehandel het, se sakke is na bewering tien keer dieper as dié van Abramovich) om wêreldklas-spelers na Newcastle te lok. “Hy moet bereid wees om agter die klub te staan,” is hoe Wraith dit beskryf.
Ten laaste, moet die eienaars saam kan besluit wat die regte pad vorentoe is. Indien nie, kan hulle dalk eindig soos die huidige Amerikaanse eienaars van Liverpool, George Gillett en Tom Hicks, wat op die oomblik nie met mekaar praat nie weens verskillende menings oor ’n visie vir die klub.
Dus, tensy jou naam Patrice Motsepe (eienaar van Mamelodi Sundowns) of Tokyo Sexwale (wie se Mvela-groep ’n vername borg van Suid-Afrikaanse sokker is), is dit dalk beter om jou eerder te hou by rugby of krieket . . .