Blogs bemagtig verbruikers, maar kan kleinhandelaars vernietig.
Dié kommunikasievorm is maar één van die nuwe tendense wat kop uitsteek waarmee die hedendaagse kleinhandelaar moet tred hou. Die kleinhandelaar se stresvlakke word verder verhoog deur nuwe inkopiediere, onder meer vernuftige jong “inkopierotte” en neurotiese ekostryders, het mnr. Dion Chang, mode-ghoeroe van Flux Trends, gesê op die 12de Afrika- Kongres van Winkelsentrums in Durban wat aangebied is deur die Suid-Afrikaanse Raad van Winkelsentrums (SACSC). Flux Trends voorspel nie tendense nie, maar ontleed nuwe tendense in die kleinhandelsektor.
Blogs skep netwerke waar verbruikers hul goeie sowel as slegte kleinhandel-ervarings onderling kan deel. Omdat dit nie beheer kan word nie, versprei slegte nuus dus soos ’n veldbrand deur netwerke wêreldwyd, sê hy.
Die impak van blogs kan beduidend wees, veral as in ag geneem word dat 1,5 miljard mense daagliks die internet gebruik, van wie 52 miljoen in Afrika is.
Volgens Chang is daar tans drie belangrike tendense wat verbruikers en kleinhandelaars beïnvloed, naamlik tegnologie, die groen-beweging en groter klem op die individu.
Hy sê hoëspoed-internettoegang lei tot vinniger besluitneming deur verbruikers, waar vergelykende inkopies aanlyn aan die orde is. “Die verbruiker het dus wegbeweeg van die inligtingsera na die eksperimentele era.”
Dit stuur daarop af dat verbruikers aan soveel keuses blootgestel word en deur soveel boodskappe gebombardeer word, dat hulle aan keuse-verlamming kan ly, sê hy.
Die eko-geneigdheid is volgens hom nie eintlik ’n tendens nie, maar ’n internasionale beweging. Skielik is dit bo-aan prioriteitslyste en word produkte noukeurig ondersoek deur ekostryders om te kyk hoe groen dit is.
Die derde tendens spruit voort uit die eko-beweging en laat die verbruiker wegbeweeg van die massa-produksie van wêreld-handelsname na ’n meer persoonlike benadering. Só sal verbruikers weer klassieke handelsname begin opsoek en fokus op iets wat pasgemaak is vir hul persoonlike smaak.
Hy sê bogenoemde tendense het verskillende tipes verbruikers tot gevolg, onder andere die volwasse verbruikers en die opkomende verbruikers.
Die volwasse verbruikers beweeg in die rigting van eenvoud en die gonswoorde vir hulle is privaatheid, goeie oordeel en kennis.
Die opkomende verbruikers is totaal die teenoorgestelde. Vir hulle is blieng koning. Hy sê dié tipe verbruiker is gewoonlik jonger en gefokus op leefstylontwikkeling pleks van persoonlike ontwikkeling.
Die verbruikers wat egter die skrikwekkendste vir kleinhandelaars is, is die jong vernuftige inkopierotte, wat winkelsentrums hul speelveld gemaak het. Hulle is uiters ervare in die kooparena omdat hulle so te sê in winkelsentrums grootgeword het.
Chang sê in ’n ekonomiese afswaai soos nou sal dié groep verbruikers eerder met hul vriende in kontak bly deur hul selfone en die internet, as dat hulle gaan klere koop.
) Mnr. Mark Bower, adjunk- uitvoerende hoof van Edcon, sê hoewel die uitdagings meer druk op kleinhandelaars plaas om vinnig te lewer, maak dit die kleinhandelomgewing baie dinamies.
Elke nuwe tegnologiese ontwikkeling lei tot nuwe mark- en verkoopgeleenthede, meen hy. Die suksesvolle kleinhandelaar in die vinnig veranderende omgewing sal die een wees wat die vinnigste op markvraag kan reageer. “Mode-neigings beweeg deesdae al hoe vinniger om die wêreld, wat voortdurend nuwe geleenthede skep om vinnig te lewer wat verbruikers wil hê.”