Vir die meeste mense is ’n bank soos ’n supermark: noodsaaklik, vanselfsprekend en altyd daar.
Jy dink nie eens daaraan of jy jou bank met jou geld kan vertrou nie; terwyl jy jou swaar verdiende geld aan jou bank leen (banke noem dit “deposito’s”), dikwels sonder ’n rente-opbrengs en met betaling van sogenaamde bankkoste; het jy ten minste die vaste aanname dat jou skuldenaar altyd in staat sal wees om jou geld terug te betaal.
Dit is slegs wanneer banke wêreldwyd vou dat mnr. Alleman begin wonder of sy spaargeld nie dalk veiliger onder sy matras sal wees nie. “Rykmansinstellings”, soos Lehman Brothers in die VSA, raak gewone mense nie so erg nie. Dit is wanneer gewone hoofstraat-banke soos die Amerikaanse Washington Mutual, die Belgiese Dexia en Fortis en die Britse Northern Rock ondergaan dat kiesers van politieke owerhede verwag om iets te doen.
Dit wat hulle te doen staan, kan beskryf word as ’n moeilike balans tussen effektiewe banktoesig en die eise van ’n vrye finansiële mark waarsonder duursame ekonomiese vooruitgang onmoontlik is (soos die 20ste eeu se ideologiese tweekamp getoon het).
In die huidige krisis is die aandrang op meer toesig oorheersend, maar op lang termyn moet die vrye ruimte behoue bly.
Regsfondamente van die bankwese
Die regsfondament van ons bankstelsel is die Bankwet van 1990, wat sedertdien reeds verskeie kere gewysig is. Daar is ook ander wette, soos die Maatskappywet, wat op banke van toepassing is, maar die kernvoorskrifte wat die stabiliteit van die hele stelsel probeer verseker, is in die Bankwet te vinde.
Banke moet twee keer registreer, eers as ’n openbare maatskappy en dan as ’n bank by die Kantoor vir Banke wat sedert 1993 deel van die Suid-Afrikaanse Reserwebank uitmaak. (Die funksie van banktoesighouding is in die meeste lande in die betrokke sentrale bank gesetel.)
Die registrasieproses deur die registrateur van banke is ’n veeleisende een, wat onder meer behels dat ondersoek word of die beoogde direkteure en uitvoerende beamptes van die nuwe bank geskikte en gepaste persone is. Wanneer ’n bank uiteindelik geregistreer is, is die korporatiewe bestuur in die instelling aan veel sterker voorskrifte onderworpe as wat die geval met gewone openbare maatskappye is.
Die belangrikste gerusstelling vir ’n bank se kliënte, en ook vir die groot publiek, is die sogenaamde voorsorgvereistes (“prudential requirements”) waaraan alle geregistreerde banke ingevolge hoofstuk ses van die Bankwet moet voldoen.
Dit dek drie aspekte.
Eerstens moet ’n bank sy sake so bestuur dat sy aandelekapitaal en onaangetaste reserwefondse altyd ten minste R250 miljoen, of ’n voorgeskrewe persentasie van sy risikoblootstellings, sal bedra.
Tweedens moet ’n bank ’n bepaalde persentasie van sy opeisbare verpligtinge (soos deposito’s) in likiede bates hou (die minister van finansies lê hierdie persentasie in ’n regulasie neer).
Derdens moet die sogenaamde konsentrasierisiko in ag geneem word. Dit beteken dat ’n bank se bestuur nie ’n bedrag wat groter as 10% van sy kapitaal en reserwes is, aan ’n enkele persoon mag voorskiet of by hom mag belê nie. Vir so ’n konsentrasie word die direksie van die bank se toestemming vereis (daar is sekere uitsonderings op laasgenoemde vereiste).
’n Versuim om aan die vereistes ten opsigte van minimum kapitaal en likiede bates te voldoen, kan met ’n groot boete deur die registrateur gestraf word.
Die Bankwet bevat ook ’n lang lys ongewenste praktyke waaraan ’n bank hom nie mag skuldig maak nie en beperk banke se beleggings in onroerende goedere en aandele.
Sulke kriteria berus nie net op die sienings van ons eie wetgewer en banktoesighouers nie, maar vind aansluiting by internasionale standaarde. Die Bankwet magtig die registrateur van banke uitdruklik om “internasionale regulerings- of toesighouding?stan?- daarde en -praktyke in te stel wat hy of sy as gepas beskou ná oorleg met banke”.
Internasionale riglyne
In hierdie verband is die sleutelrolspeler die internasionale komitee vir banktoesighouding.
Hierdie komitee is sekretarieel gekoppel aan die Bank vir Internasionale Vereffenings (BIS, Bank for International Settlements) in Basel aan die Ryn in Switserland.
Die BIS is ’n interessante instelling wat al in 1930 ontstaan het as ’n meganisme om die onverstandige skadevergoedingbetalings wat veral die Franse ná die Eerste Wêreldoorlog van die Duitsers opgeëis het, te hanteer.
Vandag tree dit op as ’n bank vir die ontwikkelde wêreld se sentrale banke en as ’n oorhoofse wakende oog oor die internasionale bankstelsel.
Die BIS het net 55 aandeelhouers, naamlik die belangrikste sentrale banke, waaronder ons eie Reserwebank. Dit dien as tuiste vir die Baselse Komitee vir Banktoesighouding (BKB, Basel Committee on Banking Supervision). Die 14 huidige lede van die BKB, afkomstig uit die groot Westerse nywerheidslande en Japan, word aangestel deur die sogenaamde Groep van Tien, wat bestaan uit dieselfde lande minus Luxemburg, Spanje en Switserland. Die huidige voorsitter is mnr. Nout Wellink, president van die sentrale bank van Nederland.
Die BKB het geen amptelike regstatus as internasionale reguleerder nie en sy besluite het geen regskrag nie.
Dit formuleer egter breë toesigstandaarde en -riglyne en doen aanbevelings oor beste bankpraktyk. Sodoende bevorder dit internasionale eenvormigheid.
Die belangrikste dokument wat deur die BKB opgestel is, is die Baselse raamwerk vir die toereikendheid van bankkapitaal (“Capital Adequacy Framework”). Dit is in 1988 uitgereik en het ’n minimum-kapitaalstandaard van 8% vir die einde van 1992 voorgestel.
Daarna is hierdie “Basel I-vereistes” hersien en in 2004 as “Basel II” bekend gestel.
’n Uiteensetting van die kernbeginsels vir effektiewe banktoesighouding is in 1997 gepubliseer.
Die BKB funksioneer veral deur vier subkomitees. Ons eie registrateur van banke, mnr. Errol Kruger, is die medevoorsitter van een daarvan. Die BKB is dus in wese ’n Westerse “klub”, maar dit reël wel ?elke twee jaar ’n internasionale konferensie waarheen alle sentrale banke van die wêreld genooi word. Al hierdie ander banke word ook gereeld van inligting en advies voorsien.
Ekonome en ander deskundiges verseker ons dat Suid-Afrika relatief goed verskans is teen die huidige finansiële storms in die internasionale bankwese, onder meer danksy die gewraakte valutabeheer waaraan Suid-Afrikaners nog onderworpe is. Ons regstelsel dra ook by met die skepping en instandhouding van ’n stewige ?regulatoriese raamwerk, gebaseer op die beste internasionale praktyke, hoewel selfs hierdie praktyke plek-plek nie bestand was teen die slegte oordeel van oormoedige bankiers nie.
)
Prof. Van Wyk, ’n regsgeleerde, is ’n oud-rektor van die Universiteit van Stellenbosch.