Die afgelope twee weke het die wêreld en Suid-Afrika onherroepelik verander: Suid-Afrika het ’n nuwe president gekry en die wêreld se finansiële stelsel is op die rand van ’n ineenstorting.
En nou lyk dit na ’n uitgemaakte saak dat die ANC gaan skeur. Dit gaan nie sommer ’n klein splintergroepie wees wat wegloop en ’n koers die woestyn in inslaan nie. Die kanse is goed dat dit ’n fundamentele breuk tussen twee uiteenlopende denkrigtings in die party gaan wees.
Aan die internasionale front word die wydverspreide gebeure in die finansiële sektor, maar veral in Europa en Suid-Amerika, voorgehou as ’n mislukking van kapitalisme – ’n simptoom van vergrype deur die besittersklas waarvoor almal nou die spit moet afbyt.
Staatshoofde van Duitsland, Italië en Frankryk het ál drie sulke uitlatings gemaak. Daar word selfs voorspel dat dit die einde is van die VSA se rol as finansiële supermoondheid.
Dit is dalk voortydig om sulke voorspellings te maak, maar dis minstens duidelik dat ernstige vrae gevra gaan word, selfs in vestings van kapitalisme soos Washington en Londen, oor die wysheid daarvan dat staatsinmenging in ekonomieë ’n algehele onding is.
The Economist som die stemming in Europa jeens die VSA en Brittanje só op: “Ons het altyd geweet dat jul ongebreidelde kapitalisme ’n fout is, maar ons is gekruisig wanneer ons dit sê. Nou moet ons almal die prys betaal vir jul oordadigheid . . . Die aktivistiese staat is weer in die mode danksy die Europeërs.”
Pres. Nicolas Sarkozy van Frankryk het byvoorbeeld verlede week gesê die teorie dat die mark altyd reg is, is nou finaal in sy peetjie in. Kanselier Angela Merkel van Duitsland het Brittanje en die VSA weer daarvoor verwyt dat hulle herhaaldelik geweier het om beter regulering van finansiële markte in te stel toe sy vroeër daarop aangedring het.
Dit gaan waarskynlik tot meer regulering van verskansingsfondse en ander spekulasie-verskynsels in die finansiële markte lei. Maar daar is geen kans op ’n hernieude oplewing van populistiese sosialisme in Europa nie.
Dieselfde kan ongelukkig nie van ontwikkelende lande gesê word nie. En die politieke winde wat nou in Suid-Afrika waai, is veral betekenisvol wat dit betref.
Daar is baie Suid-Afrikaners wat die dreigende skeuring in die ANC beskou as ’n noodsaaklike voorvereiste vir ’n demokrasie in Suid-Afrika. Dis al manier waarop die ANC se ystergreep op die land verbreek kan word en Suid-Afrika ’n volwaardige veelparty-demokrasie kan word. Maar is ons politiek volwasse genoeg om die robuuste debatte te verdra en die risiko’s te loop wat só ’n veelparty-demokrasie meebring?
Die nuwe party sal ongetwyfeld deur die ANC en sy ondersteuners as ’n elitistiese groep uitgekryt word. Maak nie saak hoeveel steun die nuwe party het nie, hy gaan nie daarin slaag om die ANC aanstaande jaar te verslaan nie. Met ’n bietjie geluk en droogmakery deur die nuwe leierskap in die ANC kan dit dalk in 2014 gebeur.
Die nuwe party wat mnr. Mosiuoa Lekota en sy tot dusver onbekende meelopers wil stig, sal beleidsrigtings voorstaan wat ten gunste van ’n vrye mark is en min of geen staatsinmenging in die ekonomie verkondig. Dis die teenoorgestelde van wat die Polokwane-leierskap in die ANC wil doen. En dit kan tot polarisering oor beleid lei wat rampspoedig vir ons almal sal wees.
Neem byvoorbeeld onderwys. Die Zuma-kamp in die ANC wil die onderwysstelsel hervorm as sy hoogste beleidsvoorkeur.
Die resolusies oor onderwys wat by Polokwane aanvaar is, stel byvoorbeeld ’n algehele gratis onderwysstelsel in die vooruitsig, want – soos almal weet – is daar nie voldoende toegang tot gehalte onderwys in veral arm gebiede nie en produseer die onderwysstelsel nie matrikulante met die regte vaardighede wat die ekonomie nodig het nie.
Maar skole wat geen skoolgeld mag hef nie, kan maklik daarop uitloop dat die ou model C-skole wat nog doeltreffend funksioneer, ook in duie stort.
En versoeke om sulke skole toe te laat om hul gang te gaan en steeds skoolgeld te hef, sal baie “elitisties” lyk. Dit sal nie sommer toegelaat word deur ’n ANC-leierskap wat moet veg om sy populistiese gewildheid te behou nie.
Dit kan maklik die laaste spyker in die doodskis vir die onderwysstelsel word.
’n Mens kan ook nie anders as om te wonder wat die posisie van mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, sal wees as ’n nuwe party uit die ANC wegbreek nie.
Manuel was ’n leidende figuur in die Mbeki-tydvak. Daar is heelwat ontevredenheid by die valke in die nuwe ANC-leierskap soos dr. Blade Nzimande en mnr. Zwelenzima Vavi, maar die topleiers het hom nodig om beleggers gerus te stel en die begrotingsproses glad te laat verloop.
Manuel se beleidsbesluite, waarin hy onwrikbaar glo, sal heelwat meer in die kraal van die rebelle pas wat nou uit die ANC wil wegbreek en dalk oor ’n halfjaar ’n gedugte opposisiespan in die parlement kan vorm.
Hoe lank kan Manuel se posisie houdbaar wees met só ’n opposisie?