Leopold Scholtz
Ons ken almal die verskynsel wat posvat wanneer ’n woedende beer op jou hakke is: ’n Verlammende vrees pak jou beet. Erger nog, jy raak in totale paniek.
By sulke tye vlieg rasionele denke by die venster uit. Jou oorlewingsinstink neem oor en jy handel outomaties. Jy hardloop na die naaste jong boompie en spring in, sonder om te sien dat die arme ou stammetjie gaan knak en jou aan die bloeddorstige beer se kake uitlewer. Pleks van dat jy na die stewige boom ’n paar meter verder gehardloop het – maar jou verstand het gaan stilstaan.
Dít is wat die afgelope week of wat op die markte gebeur het. Logiese denke is verruil vir paniek en instink. Mense het in hul miljoene van hul aandele ontslae geraak, en in die proses die probleem tienvoudig vererger.
Sedert die kredietkrisis sowat ’n jaar gelede in die VSA begin het, het dit stadig maar seker erger geword, en die laaste week of twee in ’n woedende tsoenami ontaard wat alles voor hom weggespoel het. Regerings het wanhopig keerwalle – wat in normale omstandighede selfs buitengewoon drasties genoem sou word – probeer gooi, maar hulle is die een ná die ander platgevee.
Joachim Goldberg, skrywer van Behavioral Finance (hy noem homself ’n “beurspsigoloog”), het in die Duitse finansiële dagblad Handelsblatt op ’n waarheid gewys wat in dié dae algemeen verkondig is, naamlik dat die angs en paniek op ’n gebrek aan vertroue gegrond is. Vertroue is die fondament waarop die globale finansiële stelsel berus. As dit weg is, kry jy die soort paniek soos tans. “Paniek ontstaan wanneer die mense meen hulle verloor beheer oor die toestand . . . In só ’n situasie help nóg mooi woorde, nóg mooi dade. Die rentekoersverlaging, wat eintlik ’n positiewe sein moes uitstuur, is dus verspil.”
Goldberg het ’n baie interessante oplossing – as ’n mens énige maatreël in dié stadium as ’n “oplossing” mag beskryf.
“Die mark benodig tyd. Ons moet die beheer herstel deur deursigtigheid en aanvullende inligting. Dit gaan ’n tyd duur. Ek sou daarvoor wou pleit om die beurse in die komende weke wêreldwyd te sluit.”
Dis die radikaalste voorstel wat ek nog oor die krisis gelees het. Maar dit maak sin. Met paniekerige mense kan jy nie rasioneel redeneer nie. Dus, sluit die beurse inderdaad (dit het trouens reeds in onder meer Djakarta, Moskou en Wenen gebeur), en gee die markte genoeg tyd sodat die paniek kan bedaar en mense weer rasionele besluite kan neem.
Maar dit kan slegs ’n eerste stap wees. Die krisis is só erg dat onkonvensionele denke nodig gaan wees.
Wat lê ten grondslag van die krisis? Simplisties gestel, hebsug en gierigheid. ’n Begeerte om met min werk ryk te word, pleks van om jou brood elke dag in die sweet van jou aanskyn te verdien.
Om maar ’n voorbeeld te noem: Fortis het baie van sy aandeelhouers oorgehaal om geld te leen om ’n spesiale aanbod – aandele teen ?15 per stuk – te finansier. Hulle kon die lenings dan met die dividend-opbrengs terugbetaal. En kyk waar sit daardie arme mense nou. Geruïneer omdat hulle te gulsig was.
Op groter skaal wou die Fortis-base ’n “vinnige wins” verdien deur ABN-Amro voor die neus van Barclays weg te raap. In hul gulsige gretigheid het hulle te veel betaal, en nou sit hulle met die gebakte pere.
Dieselfde geld die Amerikaanse banke en bougenootskappe wat veels te wild en onverstandig geld uitgeleen het, en vir die motornywerheid, wat met té maklike kredietreëls ’n opgeblaasde mark geskep het. Dit was ’n borrel wat die een of ander tyd moes bars.
Nog ’n probleem wat vorentoe ongetwyfeld sy kop gaan uitsteek, is die reuse-staatskuld wat veral die VSA met steeds groter jaarlikse begrotingstekorte aangegaan het. Jy kan nie onbepaald voortgaan om geld te bestee wat jy nie het nie. Dáárdie krisis wag nog.
Enige volhoubare oplossing moet dit moeiliker maak vir mense om hul gulsigheid te laat botvier. Veel strenger reëls is nodig, en die staat sal daaroor toesig moet hou.
En moenie skree dat dit ’n sosialistiese oplossing is nie. Ek het ’n broertjie dood aan mense wat ideologies rigied na ’n saak kyk, maak nie saak of dit die kapitalisme, die sosialisme, apartheid of ouma se appeltert is nie. Gebruik tog maar net jou gesonde verstand.
’n Goeie voorbeeld van ’n maatskappy wat deur sy versigtige en verstandige benadering groot sukses behaal het, was die ou Nasionale Pers. Ek het in dié maatskappy grootgeword met sy stapvoetse benadering van finansiële dissipline en ’n weersin aan spektakulêre dade. Ja, dit was nie so “sexy” soos die manne wat met asemrowende snelheid uitbrei nie. Maar dit het ’n haas onverwoesbare fondament vir die huidige Naspers geskep.
Maar wat moet die gemiddelde aandeelhouer intussen doen terwyl alles rondom hom ineenstort? Ek kan maar net die raad herhaal van Matthias Eberle in die Handelsblatt verlede Vrydag:
“ ’n Blik in die geskiedenisboeke leer dat beurse ná ’n skok sowat twee maande benodig totdat hulle stabiliseer. Tot dan geld dié leuse: Oë toe en uithou – en moenie in paniek verval nie. Dít is, soos bekend, die slegste raadgewer.”