Digicore het reeds 'n 70%-mark aandeel vir aanboord-vlootbestuurstelsels; hy het R22 miljoen kontant in die bank; hy ontwikkel nuwe produkte vir die wêreldmark wat groeigeleenthede gaan skep; en hy het boonop 'n netto batewaarde van 38,9c per aandeel, waarvan byna 10c uit kontant bestaan.
Nou hoekom draai die aandeel dan daar onder op 25c rond?
Die uitvoerende adjunkvoorsitter van die groep, mnr. Nick Vlok, wil niks sê oor die aard van die nuwe produkte nie, behalwe om te verduidelik dat in die IT/elektronika-bedryf alles kleiner en vinniger word.
Die groep bestee groot bedrae aan navorsing en ontwikkeling, en wil sy mededingers geen voordeel gee deur nou al uit te blaker wat die vernuwings is nie.
Vlok meen as mededingers nou daarvan te hore kom, sal dit ses maande tot twee jaar duur voordat hulle 'n vergelykbare reeks produkte sou kon ontwikkel en bemark.
Een van die nuwe produkte is 'n opsporing-en-terugvoeringstelsel, wat kliënte self 'n groter aandeel in die opsporing van hul voertuie kan gee.
Nog een is 'n goedkoper produk vir die dienssektor en ligtevragmotor-bedryf wat toegang tot 'n mark van 50 miljoen voertuie wêreldwyd kan gee.
Wat in die tussentydse verslag deurgeskemer het, is dat die nuwe produkreeks aanpassings eerder as revolusionêre nuwighede behels, wat tot meer bekosbare dienslewering gaan lei.
Digicore het internasionale akkreditasie vir sy nuwe tegnologiese platform verkry, en sê nuwe produkte is meer aanpasbaar in veranderde marktoestande en vir kliëntevereistes.
Die vertrek van mnr. Peter Vundla as voorsitter het meer geleenthede as verleenthede geskep deurdat die groep nuwe bloed wil verkry, verkieslik met goeie verwantskappe met die oorsese IT-bedryf.
Al het die aantreklikheid van harde valuta getaan, gaan die groep met sy oorsese uitbreiding voort en wys daarop dat hy voortaan minder deur die wisselvallighede van die plaaslike mark geraak gaan word.
Vlok reken dat die nuwe produkreeks nie net die groep aan die voorpunt van wêreldwye tegnologie plaas nie, maar ook bemarkingsgeleenthede gaan skep.
Die groep maak hom ook vir 'n styging in verkope reg omdat hy verwag dat hy meer bestellings van die staat en semi-regeringsinstelling sal kry.
Hy het te kenne gegee dat hy sy bemarkingspan versterk het en dat dit deur sy bemagtigingsvennoot, Pamodzi Investments, ondersteun is. Daardeur kry hy 'n bykomende kans om sy markdekking te vergroot.
In die ses maande tot einde Desember het Digicore se wesensverdienste per aandeel onveranderd op 4,1c gebly.
Die groep het die regte strategieë ingestel waardeur finansiële en bedryfstrukture geskep is, en hy fokus op sy langtermyn-winsgewendheid.
Digicore se aandele bied 'n toekomstige prysverdienste-verhouding (p/v) van 3, en terwyl dit so laag is, wil hy sy eie aandele terugkoop.
Die groep kan volgens JSE-reëls tot 20% van sy aandele bekom.
Vlok wil hom nie uitlaat oor die moontlikheid dat dividende aanstaande jaar uitgekeer sal word nie, maar volgens kenners na aan die groep is daar 'n redelike kans dit dit sal gebeur.
As die groep vanjaar sy verdienste per aandeel tot 8,2c verhoog en dit opvolg met selfs 'n gematigde groei van 15% in 2004, kan hy met 'n hoë dividenddekking 'n toekomstige dividendoprengs van 11,5% aanbied.
Die skade is reeds aan Digicore se aandeelprys gedoen, maar die onderliggende groep lyk kerngesond en reg om sy groeipatroon te hervat.
Dit bied waarde, het 'n gesonde balansstaat en oorheers sy mark. Vir 25c, wat meer wil jy hê?