Singapoer. – Indië se grootste selfoondiensverskaffer, Bharti Airtel, het Midde-Oosterse soewereine welvaartsfondse gekontrakteer om bykomende geld byderhand te hê om ’n aanbod vir die beherende deel van MTN te steun, het die Wall Street Journal vandag berig.
Die koerant het egter berig dat daar nog geen ooreenkoms bereik is nie.
Na beriggewing oorweeg Bharti dit om R160-R165 per aandeel aan te bied vir ‘n 51%-belang in MTN, wat $19 miljard sal kos. ’n Ingeligte bron het laas week aan die Wall Street Journal gesê dat Bharti dit mag verhoog tot R175 per aandeel.
Dié bron het aan die koerant gesê dat Bharti reeds ongeveer $12 miljard in finansiering gereël het by ’n groep banke, wat Standard Chartered insluit. – Reuters