Maputo. – Die Afrika-ontwikkelingsbank (ADB) gaan $500 miljoen aan Eskom leen om sy multimiljard-dollar-uitbreidingsprojek te finansier en om Suid-Afrika te help om ekonomiese groei van 6% vir 2010 te haal, het die bank vandag gesê.
Ander doelwitte is om Eskom se operasionele doeltreffendheid te verbeter en terselfdertyd die toeganklikheid van elektrisiteit van 72% van Suid-Afrikaners na 100% te verhoog teen 2012.
Die kragkrisis het beleggers weggeskrik en het die land se ekonomiese vooruitsigte negatief beïnvloed terwyl platinum- en goudmyne onder hul volle kapasiteit bedryf word.
Swak infrastruktuurkapasiteit en onvoldoende kragopwekking verswak die ekonomiese groei in die wêreld se armste kontinent, en die ADB het gesê hulle gaan aggressief in projekte investeer wat sal help om armoede te verminder en ekonomiese groei te stimuleer. – Reuters