Te midde van Suider-Afrika se kragkrisis het vanjaar se African Utility Week- en Power Indaba-konferensies wat van 20 tot 23 Mei in Kaapstad aangebied word, ’n skerp fokus op die uitdagings en al die moontlike tegnologiese oplossings vir die vasteland se elektrisiteitstekorte.
Die konferensies, wat saam aangebied word en voorafgegaan word deur werksessies oor onder meer die kernkrag-potensiaal in Afrika en hoe slimmeters die kragkrisis kan help oplos, word Woensdag deur me. Buyelwa Sonjica, minister van minerale en energie, geopen.
Energieministers van regoor Afrika word verwag, asook hoofde van die onderskeie kragmaatskappye, energiereguleerders en energiedienstemaatskappye.
Die aanbieders, ESI Africa, sê die African Utility Week is ’n unieke platform vir die openbare sektor en kragmaatskappye vir gesprekvoering, opleiding en om bedryfskennis oor te dra. Verlede jaar het 1 000 hoëvlak afgevaardigdes van 47 lande die konferensie bygewoon.
Die konferensie is verdeel in drie afdelings: kragopwekking; transmissie en verspreiding; en meting (wat onder meer fokus op die gebruik van slimmeters en hoe dit tot die doeltreffende bestuur van verbruikersvraag kan bydra).