Om 'n veel groter bydrae van hernieubare energie in die totale energiemengsel te kry, verg sterk besluitneming op persoonlike, plaaslike, streeks-, nasionale en maatskappyvlak.
Só sê dr. Douglas Banks, hoof van die konsultasiegroep Restio Energy en skrywer saam met mnr. Jason Schäffler van 'n verslag in 2005 wat wys dat Suid-Afrika teen 2050 tot 50% van sy energie uit hernieubare bronne kan kry.
Banks het by die SA Cities Network se beraad oor hernieubare energie sy kommer uitgespreek dat die huidige korttermyn-kragkrisis met koolsuurgas-intensiewe tegnologie aangepak word 'n verwysing na onder meer die aankoop van diesel-kragopwekkers.
Die Cities Network is 'n netwerkliggaam waaraan die nege grootste stede in Suid-Afrika behoort.
Banks sê verskeie belangrike kwessies bepaal die energietoneel - klimaatsverandering, duurder olie, die feit dat 3 miljoen huishoudings in Suid-Afrika nog nie toegang tot elektrisiteit het nie, die sterk groei in vraag, die problematiewe verband tussen voedsel en energie.
Hy wys daarop dat energiekommoditeite onderling vervangbaar is. Hul pryse gaan saam op in tye van skaarsheid. Daarom styg steenkool- en aardgaspryse ook as oliepryse styg, omdat 'n tekort aan die een kommoditeit lei tot 'n groter vraag na die ander.
Banks gee toe dat 'n vergroting in die bydrae van hernieubare energie veel meer sal kos as fossielbrandstowwe, "maar ons het beslis onderskat hoe duur fossielbrandstowwe werklik sou word?".
As die werklike koste van elektrisiteit in ag geneem word, kan windkrag byvoorbeeld so min as 40c per kWh kos. Daar is voortdurende tegnologiese verbeterings wat die koste van hernieubare energie afbring.
Die struikelblokke vir groter benutting van hernieubare energie is onder meer administratiewe rompslomp, vertragings, die gebrek aan vertroue tussen die openbare en private sektore.