Buenos Aires. – Die Argentynse president Cristina Fernandez weier om aan eise gehoor te gee in reaksie op die belastingverhoging op graanuitvoer, terwyl boere wat teen dié verhoging protesteer, onderneem om die staking van twee weke te verleng te midde van tekens van ’n voedseltekort.
Beswaardes het paaie geblokkeer en die graanmark vir byna twee weke ontwrig in die grootste konfliksituasie wat Fernandez sedert Desember ervaar het toe sy die amp van president beklee het. Tekens van ’n voedseltekort het die druk op albei partye verhoog om die geskil te besleg.
Ure nadat boere onderneem het om te staak “so lank as wat dit nodig is”, het Fernandez gesê die landboubedryf was die land se winsgewendste en het sy haar regering se landboubeleid beskerm.
“Ek gaan nie toegee aan afpersing nie. Ek verstaan wat die bedryf se belange is, maar ek wil hê hulle moet verstaan dat ek alle Argentyne se president is,” het sy in ’n toespraak gesê – haar eerste openbare reaksie op die staking.
Kort nadat sy gepraat het, het honderde inwoners van Buenos Aires potte en panne teen mekaar geslaan op die straathoeke en voor die ampswoning ter ondersteuning van die boere.
In die noordelike stad Tucuman, ’n suiker- en sitrusstreek, het stakende ondersteuners op die dorpsplein saamgedrom, soos wat op die plaaslike televisiekanaal gebeeldsend is.
Handel by die grootste vee- en graanmarkte is gestaak sedert die staking op 13 Maart begin het, terwyl winkels se voorraad beesvleis en suiwelprodukte vinnig afneem.
Boere het paaie oor die land heen met trekkers geblokkeer en graanverskeping is swaar getref. Argentinië is een van die wêreld se grootste verskaffers van soja, koring, graan en beesvleis.
Die stakende leiers sê die staking sal voortduur totdat die regering die nuwe uitvoerbelasting afskaf, waarvolgens ’n glyskaal van belasting ingestel word wat veral die tariewe op soja- en sonneblomverkope verhoog.
Landbouleiers het ingestem om “so lank as wat nodig sou wees met hierdie staking voort te gaan”, het mnr. Eduardo Buzzi, president van die FAA-vereniging, op ’n nuuskonferensie gesê.
Die staking kom nadat die drie jaar lange dispuut tussen die regering en die landboubedryf op ’n spits gedryf is. Dit is vererger deur beleidstellings wat daarop gemik is om inflasie te beheer deur onder meer die verbod op uitvoer en prysbeheer.
Die regering het heffings op graanuitvoer gebruik om staatsinkomste aan te vul in ’n tyd van buitengewone hoë kommoditeitspryse en om Argentinië se hoë inflasie te bekamp.
Regeringsamptenare het aangedui dat hulle die krisis probeer beëindig deur ’n beperking te plaas op die prysstygings van kunsmis en voor te stel dat ’n spesiale organisasie die kwessies van kleinboere hanteer. Maar dié voorstelle was nie genoeg vir die boere nie, wat sê die belastingverhoging op graanuitvoer was die laaste strooi. – Reuters