Dakar. – Senegal se uitgesproke pres. Abdoulaye Wade het gister daarop aangedring dat die Verenigde Nasies (VN) se voedsel- en landbou-organisasie (FAO) nietig verklaar moet word. Hy sê die organisasie se ondoeltreffendheid het grootliks tot stygende voedselpryse wêreldwyd gelei.
Wade het gesê die FAO, wat deur sy landgenoot mnr. Jacques Diouf bestuur word, is ’n “mors van geld wat grootliks bestee word deur niks aan doeltreffende bedrywighede op grondvlak te doen nie”.
“Ten spyte van die eienskappe van sy sekretaris-generaal. . . is dit die instelling van die FAO wat in twyfel getrek word,” het hy in ’n toespraak gesê.
Wade het gesê hy is lank reeds ’n voorstander daarvan dat dié Rome-gebaseerde organisasie na die wêreld se armste kontinent, naamlik Afrika – wat gebuk gaan onder voedseltekorte en honger – verskuif moet word.
“Dié keer wil ek verder gaan, ons moet die organisasie nietig verklaar.” Hy het ook gesê die FAO se werk word “deur ander gedupliseer, maar waarskynlik meer doeltreffend”.
Die Senegalese leier het gesê verskeie inisiatiewe is begin nadat die wêreld wakker geskrik het oor die voedselkrisis, maar selfs dié pogings plaas die FAO in ’n slegte lig.
Die FAO wou $1,7 miljoen insamel vir ’n “noodprogram om saad en kunsmis te versprei om sodoende opbrengste te vergroot,” het hy gesê, terwyl ’n ander VN-agentskap, die internasionale fonds vir landbouontwikkeling (IFAD), beloof het om “$200 miljoen vir die arm boere te gee in lande wat die ergste getref is,” het hy gesê.
Hy het gesê die reuse-verskil tussen dié twee voorstelle “dui op die progressiewe marginalisasie” van die FAO.
Hy het gesê die IFAD, wat werk maak van honger en armoede in ontwikkelende lande deur middel van lenings teen lae rentekoerse en direkte bystand, “kan die nuwe wêreld se landboubystandfonds word met sy hoofkantoor in Afrika”.
Diouf het onlangs ’n beroep gedoen op die herontwerp van die VN-stelsel en sy lot bekla oor die mededingende politiekery van verskillende internasionale organisasies wat die uitvoering van FAO-beleidstellings verongeluk.
“Dit is waar dat die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) die afgelope twee dekades beleidstellings daargestel het wat die stelsels wat in plek was om Derdewêreldse boere te beskerm, veral in Afrika, omvergegooi het,” het hy gesê.
“Ek moet egter sê dat die Wêreldbank selfondersoek gedoen het, want hy het erken dat sy beleidstellings in Afrika ondoeltreffend is en dat dit verander moet word.”
Voedselpryse wêreldwyd het die afgelope drie jaar byna verdubbel, volgens die Wêreldbank, en het die afgelope maand onluste in Egipte en Haïti tot gevolg gehad, asook optogte in ander lande en beperkings op voedseluitvoer wat onder meer in Brasilië, Viëtnam, Indië en Egipte ingestel is.
Die groter vraag na biobrandstof, handelsbeperkings, stygende vraag vanuit Asië om te voorsien aan veranderende diëte, swak oeste en hoër vervoerkoste is alles te blameer vir die prysstyging.
Mnr. Robert Zoellick, president van die Wêreldbank, het gesê 2 miljard mense oor die wêreld heen sukkel weens hoë voedselpryse, en byna 100 miljoen mense in arm lande word verder verarm deur dié krisis. – Sapa-AFP