Berlyn. – Hoë oliepryse is nie so sleg vir Duitsland nie aangesien die invoer van ruolie danksy die sterk euro goedkoper is en olieproduserende lande meer geld beskikbaar het om op Duitse uitvoerprodukte te bestee, het mnr. Michael Glos, Duitse minister van finansies, gesê.
“Oor die algemeen het die hoë olieprys nie so ’n groot uitwerking op ons nie,” het Glos in ’n onderhoud met <i>Der Tagesspiegel</i> gesê.
“Aan die een kant is dit omdat die olieprys in dollar bereken word en die sterker euro die las op ons nasionale olierekening verlig,” het hy gesê.
“Aan die ander kant vergroot die hoë olieprys die koopkrag van die olieproduserende lande. Dit is tot ons voordeel omdat Duitse vervaardigers hierdie lande se gunstelinge is.” – Reuters