Parys. – Dit is steeds moontlik om voor die einde van die jaar ’n ooreenkoms te bereik in uitgestelde onderhandelinge oor wêreldhandel, het mnr. Pascal Lamy, hoof van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO), gesê in ’n onderhoud wat vandag gepubliseer is.
“Dit is polities en tegnies moontlik om sake in 2008 te finaliseer,” het Lamy aan die koerant <i>Les Echos</i> gesê. Hy het bygevoeg dat ’n ooreenkoms dié maand of volgende maand bereik moet word sodat daar genoeg tyd is om die finale dokumente op te stel.
Die WHO se Doha-onderhandelinge is reeds in 2001 begin om arm lande te help om meer uit te voer en die wêreldwye ekonomie stukrag te gee. Verskeie spertye is egter nie gehaal nie weens verskille oor hoe om beperkinge op uitvoer te verslap.
Die WHO wil dié maand nog met ministers vergader, alhoewel ’n datum nog nie vasgestel is nie. “Dit is steeds moontlik. Die politieke leiers het saamgestem dat ons die onderhandelinge voor die einde van die jaar moet finaliseer,” het Lamy gesê.
Om dít te kan doen, moet WHO-lede ooreenstemming bereik oor landbousubsidies asook doeanetariewe in die landbou- en nywerheidsektor.
Indien ’n ooreenkoms nie gou bereik word nie, sal die verandering van administrasies in 2009 in Washington en Brussel moontlik nog ’n paar jaar se vertragings veroorsaak. Dit dra by tot kommer dat ondersteuning van vryehandel oorskadu word deur proteksionisme met ekonomiese groei wat verlangsaam. – Reuters