Sjanghai. – China se aandele-indeks het vandag met 1,84% geval met finansiële aandele wat die proses gelei het. Dit kom nadat ’n dodelike aardbewing gister die suidweste van China getref het en kommer oor inflasie en moontlike ekonomiese skade aangewakker het.
Die stemming op markte is ook laat gister negatief beïnvloed ná die sentrale bank se vierde verhoging vanjaar van banke se reserweverhoudings.
Sjanghai se saamgestelde indeks het die dag op 3 560,243 punte afgesluit, ’n verbetering op die 3 515,711 punte tydens opening.
Die industriële en kommersiële Bank van China, die land se grootste lener, se aandeelprys het met 1,46% tot 6,07 yuan gedaal, terwyl China Lewensversekering met 4,73% tot 31,63 yuan geval het.
Aandeelpryse van staal-, sement-, rys- en farmaseutiese maatskappye het egter gestyg weens die verwagte vraag wat verband hou met rekonstruksie- en reddingspogings.
Die aardbewing, wat 7,9 op die Richterskaal aangeteken het, het China se suidwestelike Sichuan-provinsie ’n halfuur voor gister se marksluitingstyd getref. Die dodetal in dié provinsie alleen staan reeds op sowat 10 000.
China se aandelebeurse in Sjanghai en Sjenzhen het die verhandeling van aandele van 66 maatskappy in die Sichuan-provinsie opgeskort. Dit is die grootste verbod op verhandeling van aandele deur dié beurse in hul 18-jarige bestaan.
Die sentrale bank het gister aangekondig dat hy banke se vereiste reserweverhoudings met ’n 0,5 persentasiepunt verhoog in ’n poging om inflasie in bedwang te hou. Dit bring groot banke se vereiste reserweverhouding nou op ’n rekordvlak van 16,5% te staan.
Die regering het gister gesê verbruikersprysinflasie in April is op ’n jaargrondslag hoër as Maart se 8,3%, naamlik 8,5%. Dit grens aan Februarie se hoogste vlak in 12 jaar van 8,7%.
Volgens sommige makelaars kan die aardbewing inflasiedruk verhoog, met dié dat die Sichuan-provinsie ’n belangrike produsent van varkvleis en rys is. Sichuan en Chongqing produseer meer as 9% van China se rysopbrengste, maar die aardbewing het die meeste skade aangerig aan ’n steil gebied met swaar reënval wat bekend is vir die verbouing van lemoene, peperkorrels en groente.
“Bekende aandele verhandel traag omdat instansies versigtig is en verwag dat die situasie gaan vererger,” het mnr. Li Wenhui, ontleder van Huatai Sekuriteite, gesê.
China het opdrag gegee dat steenkoolmyne, chemiese aanlegte en olie- en gasprodusente produksie in gebiede moet staak wat deur dié grootste aardbewing in 58 jaar geraak is, om sodoende verdere skade en sterfgevalle te voorkom. Maatskappye se werkers moet myne en aanlegte ontruim en kan nie met produksie voortgaan nie voordat veilige werktoestande nie verseker word nie, het die Beijing-gebaseerde Staatsadministrasie van Werksekuriteit op sy webblad gesê. – Reuters en Bloomberg