Sydney. – Australië se St George Bank het ’n aanbod van Westpac Banking aanvaar. Dit sal een van die land se grootste korporatiewe oornames wees.
Dié twee banke het in ’n gesamentlike verklaring gesê dat Westpac 1,31 van sy eie aandele vir elke aandeel van St George Bank aanbied, wat die waarde van die aanbod op A$18,6 miljard of $17,5 miljard bepaal.
Die transaksie moet nog deur die mededingingsowerhede en federale regering goedgekeur word.
St George Bank sal die aanbod aan sy aandeelhouers voorhou met ’n onafhanklike kundige wat bevestig dat die transaksie tot aandeelhouers se voordeel is.
Die banke het vandag die ooreenkoms onderteken en sal binne die volgende twee weke die besonderhede van ’n samesmeltingsooreenkoms bespreek.
Australië se banksektor word bestuur volgens die beleid van “vier pilare”, wat die samesmelting van die vier grootste banke verbied. – Sapa-AP