Die wyse waarop ontwikkelingshulp aan arm lande gegee word, bevorder korrupsie en skaad die demokrasie.
Dít is die sentrale stelling waarmee ’n prominente ekonoom van die Wêreldbank, dr. Simeon Djankovic, vandeesweek die Nederlandse establishment laat skrik het. Nederlandse politici maak altyd propaganda uit die feit dat hul land veel meer geld aan ontwikkelingshulp as die meeste ander lande bestee.
Djankovic, ’n gebore Bulgaar, is redakteur van die prestigeryke publikasie van die Wêreldbank, Doing Business. Volgens die internasionale organisasie Research Papers in Economics word hy as een van die wêreld se top-500 ekonome beskou. Hy het uitvoerige navorsing oor ontwikkelingshulp aan die ontwikkelende wêreld gedoen.
Djankovic was in Nederland om ’n lesing te gee en het ook ’n onderhoud gehad met die gehaltedagblad De Volkskrant.
“Ons weet reeds dat al die miljarde se hulp wat ryk lande die afgelope dekades verleen het, niks of nouliks bygedra het tot die verhoging van ekonomiese groei in dié lande,” het hy gesê.
“Maar wat ek in my navorsing aantoon, is dat groot hulpstrome na arm lande ook nog tot gevolg het dat hulle minder demokraties word. Sterker nog, as hulle 20 jaar agtereenvolgens baie hulp ontvang, bly daar uiteindelik niks meer van die demokrasie oor nie.
“Zimbabwe, die liefling van die skenkers in die 1970’s, is ’n goeie voorbeeld.”
Die oorsaak, sê Djankovic, is dat ontwikkelingshulp tot korrupsie lei: “Die maghebbers en hul amptenare probeer onmiddellik om ’n deel van die geld af te keer, soms deur bedrae te herlei na hul eie bankrekenings, maar ook deur dit te bestee aan sake wat gewild is by sekere groepe kiesers. So kan hulle die mag immers langer behou.”
’n Voorbeeld: In onderwysprojekte in Uganda het slegs 13% van die geld wat die regering in ontvangs geneem het, by die skole uitgekom. Teen die tyd dat die departement van finansies, wat die geld in ontvangs geneem het, die geld aan die departement van onderwys oorbetaal het, het 40% daarvan reeds verdwyn.
Djankovic verwys ook na Burkina Faso, waarvan die jaarlikse staatsbegroting dekades lank 40% deur ontwikkelingshulp gefinansier is. Sulke lande het geen aansporing om ’n verstandige ekonomiese beleid te volg of dissipline met staatsuitgawes aan die dag te lê nie.
Vir Westerse regerings is dit dikwels die maklikste om eenvoudig ’n tjek uit te skryf en aan die betrokke land se regering te oorhandig. Deur nie behoorlik toesig te hou oor die besteding van die geld nie vermy hulle ook die verwyt van neo-kolonialisme.
Djankovic maak egter wel ’n uitsondering met lande wat pas uit ’n langdurige konflik kom. Ondanks slegte bestuur moet die geld daar wel gegee word; die lande kan nie aan hul lot oorgelaat word nie.
“Dieselfde geld ná ’n tsoenami, of, soos nou, die voedselkrisis.”