Die paniek oor die dramatiese daling in die aandeelprys van die Belgies-Nederlandse bankreus Fortis het verder toegeneem nadat die bank se voorsitter, mnr. Maurice Lippens, ’n finansiële ineenstorting in die VSA voorspel het.
Lippens het Saterdagoggend in ’n onderhoud met die Nederlandse De Telegraaf verduidelik waarom Fortis ’n uitgifte van €1,5 miljard gedoen het. As gevolg van dié uitgifte het die bank se aandeelprys verlede week in ’n enkele dag met 20% gedaal, ofskoon dit sedertdien weer effens herstel het.
Einde verlede jaar is ’n uitgifte van €13 miljard gedoen.
Die uitgifte is gedoen om Fortis (saam met die Royal Bank of Scotland en die Spaanse bank Santander) se oorname van ABN Amro te finansier.
“Dit gaan in die VSA veel slegter as wat ’n mens gedink het,” het Lippens aan De Telegraaf gesê. Hy verwag bankrotskappe onder 6 000 Amerikaanse banke wat nie behoorlik teen die kredietkrisis beskerm is nie, maar ook groot maatskappye soos General Motors en Citigroup kan in gevaar wees.
“ ’n Volledige ineenstorting is in die VSA aan die ontwikkel,” het hy gesê.
Volgens Lippens sê hy dit op grond van gesprekke met Amerikaanse bankiers. “Twee maande gelede het ons nog nie geweet dat dit só sleg in die VSA gaan nie. En dit sal nog veel slegter gaan. Ons het ’n dik matras nodig om deur die volgende 18 maande te kom wanneer ons ABN Amro inbring.”
Lippens het oproepe dat die bank se besturende direkteur, mnr. Jean-Paul Votron, in die pad gesteek moet word, verwerp. Hy meen die oorname van ABN Amro was, ondanks die €24 miljard wat dit gekos het, “ ’n fantastiese kopie”.
Intussen neem die kritiek op die oornametransaksie steeds toe.
Einde April het Votron steeds volgehou dat Fortis geen nuwe kapitaal nodig het vir die oorname nie en dat ’n aandele-uitgifte nie nodig was nie. Maar twee weke gelede het die Amerikaanse sakebank Merrill Lynch, Fortis se raadgewer, laasgenoemde geadviseer dat hy minstens ’n bykomende €6,2 miljard nodig het om die oorname te finansier.