Genève. – Lede van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) het tot gister laataand vergader ter wille van ’n deurbraak in onderhandelinge wat ’n wêreldhandelsooreenkoms ten doel het. Ontwikkelde en ontwikkelende lande is hakerig oor landbousubsidies en handelstariewe.
Een ingeligte bron het gesê onderhandelinge was nog nooit so intens die afgelope vier jaar nie, maar daar is geen aanduiding dat enige groep bereid is om iets prys te gee ter wille van vordering nie.
“Die ministers ruil dokumente uit en doen voorstelle. Ons het nog nooit sedert 2004 hierdie gevoel van intensiteit gekry nie,” het die diplomatieke ingeligte bron gesê en bygevoeg dat onderhandelinge deur die nag kan voortduur.
Die hoof van die WHO, mnr. Pascal Lamy, het toegegee dat vooruitgang sedert die begin van die week maar effens is, terwyl mnr. Gordon Brown, Britse premier, almal herinner het dat onderhandelings “ter elfder ure is”.
– Sapa-AFP