Zürich. – Credit Suisse het in die tweede kwartaal weer ’n wins aangeteken ná sy subprimaverliese. Die maatskappy se netto inkomste was Sfr1,22 miljard ($1,16 miljard).
Credit Suisse se resultate in die tweede kwartaal was wel 33% laer as die netto inkomste van Sfr3,2 miljard in dieselfde tydperk ’n jaar vantevore. Credit Suisse, Switserland se tweede grootste bank wat beter weerstand teen die subprimakrisis as sy mededinger UBS gebied het, was die eerste kwartaal in die rooi met ’n netto verlies van Sfr2,1 miljard.
“Ons is tevrede met ons resultate vir die tweede kwartaal. Dit weerspieël ons herstelvermoë en moontlike verdienste van ons geïntegreerde sakemodel, asook ons voortgesette fokus op risiko- en krisisbestuur,” het mnr. Brady W. Dougan, uitvoerende hoof, gesê. – Sapa-AP