Met sowat 700 deelnemers van meer as 40 lande, vind die grootste wêreldsaamtrek van Afrika-joernaliste van vandag tot Woensdag in Grahamstad plaas onder leiding van die departement joernalistiek van die Rhodes-universiteit in vennootskap met die SABC. Verskeie ander maatskappye, nie-regeringsinstellings en stigtings skaar hulle ook agter die konferensie.
Dié twaalfde Highway Africa-konferensie gaan gepaard met verskeie media-geleenthede soos die saamtrek van drie verskillende redakteursverenigings, kleiner uitgewers en bloggers wat hul eie “digitale burgerlike indaba” gaan hou.
Terselfdertyd gaan die Afrika-tak van die Globale Forum vir Mediaontwikkeling bekend gestel word. Dié alliansie van meer as 400 nie-regeringsinstellings in 97 lande werf onder meer stemme vir persvryheid, monitor mediadekking en verskaf joernalistieke opleiding – ‘n belangrike fokus van die konferensie.
Die afgelope paar jaar het die wêreld nie net ’n groot opwelling in die gebruik van nuwe, webgebaseerde media en sosiale netwerke soos MySpace, Facebook en YouTube gesien nie; blitsige boodskaptegnologieë soos Skype, Yahoo en MSN, het ’n groot skuif na internetgebruik meegebring.
Daarbenewens het selfoontegologie en dramatiese penetrasie in Afrika en die ontwikkelende wêreld ’n magdom moontlikhede vir die bemagtiging van die gewone burger gebring om toegang tot media-inhoud te kry én dit self te skep. Trouens, burgerlike joernalistiek het reeds op groot skaal na vore getree en wêreldwyd doen gewone mense lustig mee om hul stemme, hoe amateuragtig ook al, deur dié nuwe mediavorme te laat hoor.
Maar in Afrika is daar ’n kinkel in dié kabel: burgers het nie net weinig regte en verbruikers weinig mag nie, hulle is dikwels ook slagoffers van politieke en ekonomiese tirannie. Te meer, as gewone burgers is joernaliste in sommige Afrikalande klakkelose regeringsnapraters.
Hoe om dié probleme in Afrika-verband te pak en sinvol op te los, asook die demokratiseringsrol wat die media en burgers kan speel, gaan vanjaar die hooffokus van dié driedaagse konferensie met die tema, Citizen journalism, journalism for citizens, wees.
Benewens formele aanbiedinge en verskeie sleuteltoesprake, gaan die Highway Africa-konferensie ook die uitdagings voor die gedrukte media, radio en TV, aanlyn- en multimedia ondersoek. Dit behels ook boekbekendstellings en tentoonstellings.
Die sewende SABC Highway Africa digitalejoernalistiek-toekennings word ook op die konferensie gedoen. Dit vind in drie kategorieë plaas: vir individuele en studente-inskrywings; korporatiewe inskrywings en nie-korporatiewe inskrywings/sonder winsbejag.