Zimbabwiërs begin al hoe meer tekens van ongeduld en woede toon met die onwilligheid van owerhede om hul lot te verlig.
Die tekort aan mieliemeel, ’n basiese voedselsoort, het die prys deur die dak laat skiet en dit is nou buite die bereik vir die meeste gesinne.
’n Sak van 20 kg mieliemeel het van verlede Maandag tot Donderdag van R25 tot R75 opgeskiet, terwyl die pryse van die meeste ander goedere in dieselfde tydperk ongeveer sesvoudig toegeneem het.
Die gemiddelde salaris van staatsamptenare is R50. Dit is heelwat minder as hul vervoerkoste om by die werk te kom. Vervoer kos gemiddeld R600 per maand. Dit het ’n oop geheim geword dat byna almal wat steeds werk toe gaan, dit nie vir die salaris doen nie, maar hul werkplek vir onwettige transaksies gebruik.
“Niemand oorleef meer op hul salaris nie. Dit is onmoontlik. Die regering het sy burgers in handelaars en misdadigers omgeskep. Amper almal is betrokke by die een of ander onwettige praktyk en dit is hoe gesinne nog in Zimbabwe oorleef,” het mnr. Lloyd Matsa, ’n verpleër by een van Harare se groot staatshospitale, gesê.
“Maar met die pad wat dinge nou loop, kan selfs daardie transaksies nie meer lewe in Zimbabwe onderhou nie. Ons het ’n punt bereik waar hongersnood ’n werklikheid begin word. Baie min mense kan dit nog bekostig om mieliemeel te koop, wat nog te sê rys, wat die alternatief is,” sê hy.
Die politieke dooie punt wat die land sedert die Maart-verkiesing in ’n wurggreep het, is te blameer vir die verslegtende ekonomiese toestande. Verlede week het Zimbabwiërs gehoop ’n politieke ooreenkoms sal tussen die twee politieke hoofspelers beklink word, maar namate die week sy einde genader het, het alle hoop verdwyn.
’n Vinnige opname Woensdag in winkels in Harare het getoon dat pryse nou drie of vier keer per dag verander. “Dit is asof mense vertel is dat die samesprekings misluk het en daar is nou geen keer aan die ekonomiese ineenstorting nie,” sê mnr. Michael Mutasa, bestuurder van ’n kitskoswinkel in Harare.
“Ons is beslis op pad na moeiliker tye indien ’n politieke ooreenkoms nie (die afgelope) naweek bereik word nie, en meer en meer Zimbabwiërs word by die dag meer geïrriteerd. Hulle kan nie meer die mees basiese voedselsoorte bekostig nie en die tekorte word ál erger.”