Dit was ’n paar dae van finansiële drama en hoogspanning in Brussel, Den Haag en Berlyn. Teen gisteraand was daar steeds slegs gedeeltelike duidelikheid oor hoe die Europese bankkrisis aangepak gaan word.
Oor die Nederlandse deel van die probleem is reeds Vrydagaand uitsluitsel gegee toe die Nederlandse regering eensydig aangekondig het dat hy die Nederlandse bedrywighede van die noodlydende Belgies-Nederlandse bank- en versekeringsreus Fortis volledig nasionaliseer. Dit sluit ABN Amro in, wat vroeër vanjaar deur ’n konsortium banke – Fortis, die Royal Bank of Scotland en Satander – oorgeneem is.
Die nasionalisering is bedoel as tydelike stap. So gou sake gestabiliseer het, sal die genasionaliseerde bank geprivatiseer word. Volgens die Nederlandse minister van finansies, mnr. Wouter Bos, kan dit binne ’n jaar gebeur.
Nederland het €16,8 miljard aan die Belgiese oorblyfsel van Fortis vir die nasionalisering betaal. Saam met die €4,7 miljard wat België verlede week vir die verkryging van 49% van Fortis betaal het, gee dit ’n klomp kapitaal aan die sukkelende bank.
Teen gister was dit egter duidelik dat dit nie genoeg is nie. En dus het die Belgiese regering en leiers van Fortis die hele naweek vergader om ’n oplossing te vind voor 08:00 vandag, wanneer die aandelebeurs open. Volgens voorlopige berigte kyk die Belgiese regering nou eers na die moontlike verkoop van Fortis aan ’n buitelandse bank. As dit nie slaag nie, bly nasionalisering – soos in die geval van Fortis-Nederland – ’n opsie.
Fortis kan nie ’n verdere ineenstorting van sy aandeelprys bekostig nie en die Belgiese regering kan volgens finansiële waarnemers hier eenvoudig nie toelaat dat Fortis bankrot speel nie. Dit sal ’n domino-effek hê wat die Belgiese en Europese ekonomie ’n ernstige knou kan toedien.
Twee moontlikhede is gister bespreek: Om die Nederlandse voorbeeld te volg en Fortis heeltemal te nasionaliseer, of om die bank aan ’n ander bank te verkoop.
Intussen sit ook die Duitse regering in Berlyn met sy hande in die hare.
Verlede week is altesame €35 miljard uit verskeie oorde bymekaargeskraap om die land se grootste bougenootskap, Hypo Real Estate, te red. Maar teen gister het sommige geldskieters kop uitgetrek. En bowendien het dit duidelik geword dat Hypo dalk tot €100 miljard nodig het om van ondergang gered te word.
- Eergisteraand het die regeringsleiers van Frankryk, Duitsland, Brittanje en Italië op ’n haastige spitsberaad in Parys besluit dat ’n globale finansiële spitsberaad nodig is om “die wêreld se finansiële stelsel te herbou”, net soos by Bretton Woods 60 jaar gelede gebeur het. Suid-Afrika word spesifiek genoem as een van die lande wat teenwoordig moet wees.