Die pas goedgekeurde VSA-reddingsplan beteken nié sake soos gewoonlik nie.
Inteendeel, dit gaan klippe kou verg om met strenger regulasies te voorkom dat die VSA se finansiële instellings nie weer soos cowboys roekeloos uitleen nie.
Die uitwerking van die plan gaan waarskynlik verder as net die finansiële sektor uitkring.
Die VSA se huis van verteenwoordigers het Vrydag ’n $700 miljard-plan goedgekeur wat veronderstel is om die land se krediet-knyptang en die domino-effek daarvan te verlig.
Die plan stel die regering in staat om bates van finansiële instellings wat in die moeilikheid beland het, oor te koop. Dié reddingspoging is egter nie met ope arms ontvang nie – die huis se stemme was verdeel met 263 teen 171 en die markte het net ná die stemmery geval.
Die Dow Jones-nywerheidsindeks het Vrydag 1,5% laer op 10 325,38 punte in New York gesluit. Die Standard & Poor 500 was 1,4% laer op 1 099,23 punte en die Nasdaq-indeks het met 1,5% gedaal tot 1 947,39.
Internasionale ekonome erken dat die plan nie perfek is nie, maar meen dit is darem beter as niks. “Die kwessie in dié stadium is om paniek te voorkom,” sê mnr. Adam Posen, adjunk-direkteur van die Peterson-instituut in Washington.
Mnr. John Loos, ’n ontleder van Eerste Nasionale Bank, sê die groot vraag is nou hoe die uitleenpraktyke, wat die probleem in die eerste plek veroorsaak het, in die toekoms behartig sal word.
“Ek vermoed dat Amerikaanse finansiële instellings nié toegelaat gaan word om weer soos cowboys roekeloos uit te leen nie.” Daar sal streng vereistes moet wees om uitleenpraktyke weer tot verantwoordelike vlakke te herstel, sê hy.
Hy reken die reddingsplan, wat die Amerikaanse belastingbetaler gaan kós, moet ’n duur les wees vir finansiële instellings wat deel was van die probleem.
Loos is boonop nie oortuig daarvan dat daar nie nóg finansiële instellings is wat kan val nie.
Hy sê Suid-Afrika is nie immuun teen dié buitelandse krisis nie. “Dié land is indirek ekonomies daaraan blootgestel – veral omdat ons so ’n klein en oop ekonomie het.”
Gewoonlik as die VSA se ekonomie probleme optel, raak beleggers bekommerd oor ontwikkelende markte en dit bring risiko’s vir die rand.
Volgens hom moet daar nie bloot geoordeel word of die plan goed of sleg is nie, maar hang die plan nou af van hoe dit gehanteer word.
Mnr. Erwin Rode, eiendomswaardeerder en -ekonoom van Rode & Genote, sê daar is geen twyfel dat die plan se strenger uitleenkriteria ook die sukkelende kleinhandelsektor en die huismark in die VSA sal raak nie.
“Mense gaan minder bestee as hulle voel hulle is armer.”
Die kleinhandelsektor word reeds geknyp deur die ekonomiese afswaai, wat die klerehandelaar Steve & Barry’s en die speelgoedhandelaar Sharper Image, laat vou het.
Huispryse in die VSA daal al ’n geruime tyd en Rode verwag dat ’n regstelling in die huismark jare kan neem. –
bykomende inligting van Bloomberg