Sondag  
Tuisblad Teken in

Sean Else glo enigiemand mag die storie van die grensoorlog vertel.

19/07/2008 19:37  - (SA)  

Sangers in die spervuur


Yolanda Barnard

Byna 20 jaar nadat die laaste skote in die grensoorlog geklap het, het ’n handgranaat tussen twee liedjieskrywers ontplof.

Die een is in sy vroeë 30’s. Die ander in sy laat 40’s. Twee generasies. En tussen hulle is ’n gaping wat nou deur die grensoorlog oorbrug moet word. ’n Polemiek het losgebars nadat kykNET sowat twee weke gelede begin het om ’n dokumentêre reeks oor die grensoorlog uit te saai.

Nou is Lourens Fourie (47), wat in die 1980’s ’n beroepsoldaat was, vies vir Sean Else en Johan Vorster omdat hulle ’n liedjie oor die grensoorlog vir Bok van Blerk geskryf het. Lourens sê hy het al in die vroeë 1980’s grensliedjies begin skryf.

“Ek kan nie glo Sean-hulle het die vermetelheid om ’n liedjie oor die grensoorlog te skryf nie. Hy, Bok en Johan het nooit geveg nie. Hulle weet nie wat dit was om oorlog te maak nie. Ek dink nie eens Sean weet wat ’n kaplyn is nie. Terwyl Bok in sy nappies gehuil het, het ek browns gedra.”

Maar Sean sê hy wil nie baklei oor wie grensliedjies mag skryf en wie nie. “Ek weet ons het nie self diensplig gedoen nie, maar ek het genoeg oor die grensoorlog opgelees om te weet wat aangegaan het. Mag ons dan nie die storie van die grensoorlog vertel nie?”

Teen September behoort Bok van Blerk se enkelsnit Kaplyn op die rak te wees. Sean sê dis beslis nie ’n tweede De la Rey nie. “Kaplyn vertel die storie van ’n man wat 30 jaar ná die oorlog sy vriend se dood bevraagteken. Dit het niks met politiek te doen nie. Dit vertel ’n menslike storie.”

Lourens glo steeds dat ’n mens net oor die oorlog kan skryf as jy dit aan jou eie lyf gevoel het. “Ek was daar.”

Hy beplan ook om teen Augustus ’n 16-snit-album met grensliedjies die lig te laat sien. “Baie van my ou liedjies gaan daarop wees. Ek is die eerste sanger wat grensliedjies begin sing het. Ek dink steeds Sean-hulle matig hulleself darem baie aan. Hulle wil nou van die oorlog ’n kommersiële ding maak.”

Lourens het in 1994 bekendheid verwerf toe sy musiekvideo Dog of War twee keer deur die SAUK uitgesaai is.

Sean sê dat hulle Kaplyn al einde verlede jaar geskryf het. “Ons ry beslis nie nou op die grensoorlog-dokumentêr se rug nie.”

Lourens glo dat die oorlog geregverdig kan word. “As dit nie vir daardie oorlog was nie, was ons land in groot moeilikheid. Ons wil net die soldate se naam ook in ere herstel. Ons het ’n eerbare oorlog geveg. En nou bevraagteken almal ons. Tot my eie kinders.”


Teken In Op Sondag

 | 
 |