Sondag Dis wen-tyd
Wen jou deel van R 90 000.
  Kuier saam met Sondag en Dros!
Kry jou Sondag koerant en glas wyn/ tapbier verniet as jy Sondag 'n Dros schnitzel of pastei bestel!
Tuisblad Teken in

Twee Chinese kinders. Vir SEB-doeleindes is hulle nou pikswart.

21/06/2008 16:13  - (SA)  

EenOog Maas - Deon Maas

Die ironie van swart Chinese

In 1984 is 518 bruin mense geherklassifiseer as wit, twee wit mense as Chinees, een witte as Indiër en nog ’n witte as bruin, en 89 bruin mense as swart.

Op 18 Junie 2008 is alle Suid-Afrikaanse Chinese geherklassifiseer as swart.

Buite die hof het Queenie Kingston vir George Bizos, haar advokaat, omhels.

’n Entjie verder het Patrick Chong, die voorsitter van die Chinese Vereniging van Suid-Afrika, en Melanie Yap aan mekaar gehang en die trane het gevloei. Die oomblik was groot vir die Chinese Suid-Afrikaners. Ná ’n hofstryd van agt jaar het hulle dit uiteindelik reggekry om hulleself as swart te laat verklaar in die hof.

Ja, Suid-Afrika se Chinese is nou swart. Moenie vir my vertel ek bly nie in ’n interessante land nie.

Vir die eerste keer ooit stem ek saam met die VF+ se jeugleier, Cornelius Jansen van Vuuren, wat by die aanhoor van die hofuitspraak gesê het: “ ’n Ryk persoon wat van China geïmmigreer het, het nou meer voordele as ’n arm Afrikaner wie se familie al 300 jaar in die land bly.”

Die Chinese se gretigheid om as swart geklassifiseer te word het natuurlik niks te doen met hulle vereenselwiging met die struggle of simpatie vir die verdruktes van die verlede nie.

Hulle probeer ook nie werk kry as konstruksiewerkers nie. Dit gee nou aan al daai Chinese met geld die geleentheid om voordeel te trek uit SEB-kontrakte wat hulle in die verlede verloor het, soos tydens die Sasol-bemagtigingskontrak.

Die mag van die Chinese in ons veranderende wêreld moet nooit onderskat word nie. Die mense wat die geld wil maak vergeet van China se menseregterekord, die feit dat hulle die grootste teregstellingsyfer ter wêreld het en dat die liggaamsdele van die vermoordes verkoop word aan hospitale wêreldwyd vir orgaanoorplantings.

Moet ook nooit vergeet dat Taiwannese Chinese (wat eintlik maar dieselfde ding is, die een groep is maar net kommuniste en die ander kapitaliste) onder die Natte as wit geklassifiseer is nadat Suid-Afrika in die era van isolasie met hulle begin sake doen het nie.

Dit beteken dat hulle wit was onder apartheid en swart is in die nuwe Suid-Afrika. Duidelik het hulle meer geld om hulle sin te kry – anders as die bruin mense wat te swart was in die ou Suid-Afrika en nou te wit is vir die nuwe Suid-Afrika.

Die staat het nie die poging van die Chinese teengestaan nie. Het dit dalk te doen met die Chinese se ekonomiese invloed wat sterker en sterker word?

Jare gelede het my vriend na Chinese verwys as ekonomiese soldate. Wel, Lee, jy was reg.

Ek het niks teen Chinese nie. Ek hou van hulle kos, hulle godsdiens en hulle bydrae tot kleredrag is ook nie te sleg nie. Hulle musieksmaak is die meeste van die tyd nie op standaard nie, maar ’n mens kan nou seker nie alles in een land wil hê nie.

Die feit dat een van die grootste rassistiese bevolkingsgroepe in Suid-Afrika nou skielik swart is, was duidelik ’n politieke besluit en een waarvan die ironie nie ongesiens kan verbygaan nie.

Die ironie van swart Chinese . . .


Teken In Op Sondag

 | 
 |