Mense verwonderd oor aardskeure

2017-01-18 06:01
 Andries van Zyl verduidelik hoe verskil die lawa- en dolomiet­gesteentes wat in die rotse en kranse van Boesmangat voorkom.  Foto: Emile Hendricks

Andries van Zyl verduidelik hoe verskil die lawa- en dolomiet­gesteentes wat in die rotse en kranse van Boesmangat voorkom. Foto: Emile Hendricks

Multimedia   ·   User Galleries   ·   News in Pictures Send us your pictures  ·  Send us your stories

Die aardskeure wat die afgelope weke deur massas reënwater in Mount Carmel se weidingskampe naby Daniëlskuil gekloof is, trek al wat ’n deskundige en nuuskierige is.

Die R31-roete is amptelik gesluit verklaar, hoewel rompslomp die proses vertraag. Charné Kemp en die fotograaf Emile Hendricks het self in die sinkgat se kuile geklouter.

Andries van Zyl, soos al die boere hier, het ’n besonderse mooi plaas, sinkgate en al. Nie dat hy windgat is of wil klink nie.

Sy gedeelte van die drie Mount Carmel-plase is knus tussen die Kurumanheuwels en Mount Carmel genestel, ’n klipgooi of ses noord van Daniëlskuil.

Die omgewing is bespikkel met ontdekte en onontdekte sinkgate en grotte wat menige kind, avonturier en grotduiker al getrek het. En sommiges se dood beteken het.

Donderdag (12/01) het nóg ’n sinkgat in bruisende reënwater langs ’n aardskeur op sy broer se plaas in die aardkors verskyn.

Asems is in verwondering en vrees langs die ysingwekkende diep skeure ingetrek.

Motoriste, toeriste, argeoloë, geoloë, ingenieurs en enige iemand met ’n kamera kon nie hul nuuskierigheid be­teuel nie.

Sommiges het in die gate geklouter.

Die departemente van openbare werke en paaie, asook motoriste, is gewaarsku oor die veiligheid van die R31-roete wat hierlangs strek.

Dit is al vantevore gesluit om sinkgate te herstel.

Andries bly verwonderd oor ’n verskynsel wat hy eintlik goed ken.

“Kyk net na die verskillende kleure van die grond,” sê Andries, en wys na die rand van die skeur waarin etlike gate geval het.

“Kyk, daar is ysterklippe, verskillende soorte grond en dan die jonasrotse, die dolomiet. Die sagte dolomiet word oor miljoene jare deur water weggevreet, vandaar al die grotte en sinkgate, fonteine en onderaardse mere.

“Ek dink dié insakking het ná 2010 se baie reën begin.”

Ontblote wortels van die elandboontjieplant met sy fyn veeragtige blare hang soos dik dorstige worse oor die rand.

Die reënwater wat uit die heuwels oor die veld spoel, sal in die krake verdwyn, in die grond syg of deur die vleie tot by Koopmansfontein syfer.

Dié water is egter baie haastig. Dit het ook sy landerye verspoel.

Die dolomietformasies van die Noord-Kaap lê wes, by Kathu en Postmasburg, en oos van die Kurumanheuwels, van waar dit tot by die Ghaapse Plato en Griekwastad strek.

Die bekende Boesmangat is ook op Andries se plaas. Dit is sowat 12 km soos die kraai vlieg van die bekende Wonderwerkgrot af.

Ander sinkgate het oor die jare ook tot sowat 600 m om sy opstal verskyn.

Ons ry op die ou grondpad wat voor 1974 as die hoofpad tussen Kuruman en Daniëlskuil gebruik is.

“Lank gelede het die Boesmans en ontdekkers soos Livingstone, Burchell en Lichtenstein en sendelinge hier gewandel.” Hulself met soet water uit Boesmangat en die fonteine in die omgewing gelawe.

Dit was die afgelope jare uiters droog. Andries staar afgetrokke na die veld.

“Dit kry nou weer lewe. Ons kort elke week reën. As ons dié somer genoeg kry, sal die gras hopelik weer so geil soos koring staan.”

Boesmangat, ’n oeroue sinkgat, is die derde diepste varswatergrot en die grootste onderwatermeer ter wêreld.

Hoë kranse van etlike meters tuimel na benede en trek die oog onwillekeurig na die waterpoel doer onder, daar waar drie grotduikers hul lewe op soek na dieper, donker dieptes verloor het.

“Daar is ook stories dat smokkelaars mekaar oor die eeue heen hier ontmoet het.

“Toe een van die duikspanne een keer ’n kamera afgestuur het, het hulle ’n skedel by ’n outydse tas op ’n perdedrasak op ’n rotslys gesien. ’n Mens wonder of hier ’n gruwelike daad gepleeg is en die bewyse, buit en al, hier afgegooi is . . .”

Tog is dit ook lekker hier. ’n Swem- en kuierplek vir Andries en sy gesin en hul vriende. Hy het lank gelede braai- en piekniekplekke gebou.

“Hier is beslis iets magies, iets wat jy kan voel, maar nie beskryf nie. ’n Kalmte en ’n rustigheid. Die Amerikaanse jagters wat ek hier onthaal, voel dit ook aan.”

Hy vryf met sy groot hande oor growwe rotse en verduidelik hoe ’n mens tussen lawarotse en dolomiet onderskei.

“Sommiges vertel my hier was derduisende jare gelede ook gletsers wat swak plekke in die rots oopgekloof het.”

Grondwater syfer deur die rotsskeure en druppels water biggel oor die groen mos.

Deesdae swem net enkele grotduikers hier vir hul plesier.

Die diepduik-rekords is lankal gebreek. Plaaslike geestelikes skep gereeld van die glashelder water vir heilige seremonies.

Gys Hoon, wat as kind op die plaas Swerwersrus in die Kono-omgewing, sowat 30 km suid van Kuruman, grootgeword het, onthou hul avonture in ondergrondse grotte.

“Dit was in 1978 en 1979. Ons het eendag ’n holte gesien waaruit vlermuise vlieg. Ons het ingekruip en met vislyn en kerse ondersoek ingestel. Die vislyn moes ons na die opening teruglei. Dit was ’n ongelooflike ontdekking. Ons moes net ons ouers vertel wanneer ons die grot vir ’n maat móés gaan wys.”

Hy het sy seun, toe tien, in 2011 die grotte op sy grootwordplaas gaan wys.

“Ons moes kruip en klim en klouter. Ek en hy het ons ou kerse en lyne ontdek. Die stalaktiete en stalagmiete in die groter kamers bewonder.Dit was ’n onvergeetlike ervaring vir my en hom. Effens vreesaanjaend omdat dit so gitswart en bedompig is.”

Die mens ontdek homself in sy ingebore drang om die onbekende op die hoogste pieke en diepste donkertes van moederaarde te verken.

Join the conversation!

24.com encourages commentary submitted via MyNews24. Contributions of 200 words or more will be considered for publication.

We reserve editorial discretion to decide what will be published.
Read our comments policy for guidelines on contributions.
NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
/News

Book flights

Compare, Book, Fly

Traffic Alerts
Traffic
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.

Settings

Location Settings

News24 allows you to edit the display of certain components based on a location. If you wish to personalise the page based on your preferences, please select a location for each component and click "Submit" in order for the changes to take affect.




Facebook Sign-In

Hi News addict,

Join the News24 Community to be involved in breaking the news.

Log in with Facebook to comment and personalise news, weather and listings.