Ongekunstelde Baron von Schrikke van die Kouga

2016-08-04 06:00
Martin Wessels, kunstenaar in die Kouga, afgeneem in ’n raam op sy plaas Schrikkerivier.

Martin Wessels, kunstenaar in die Kouga, afgeneem in ’n raam op sy plaas Schrikkerivier.

Multimedia   ·   User Galleries   ·   News in Pictures Send us your pictures  ·  Send us your stories

LANGS die kronkelpad, bergaf, met hul hel-der oranje pluime omhoog, basuin aalwyne hosannas.

Die aarde om jou lyk soos kort ná die Skepping.

“Dit gebeur vanself – die heilige plekke waar ek bly, kom kies my. Ek soek hulle nie, hulle kom vanself,” sê Martin Wessels (68).

Die heilige plek is Schrikke­rivier, Martin se plaas in die krop van die Kougaberge, so byna 30 km van Joubertina in die Oos-Kaap af.

Die heiligheid kom sit om jou, ín jou, op Schrikkerivier.

Martin, ’n kunstenaar wie se werk in versamelings en huise oor die wêreld hang, leef hier, diep, báie diep in die berge, op sy eie. Eenvoudig. Lig.

Vir sy skilderye betaal mense duisende rande.

“Ek het soveel [goed] al gehad. Ek het so min nou, maar ek het steeds te veel goed,” mymer hy langs die vuur, waar hy kruisbeen sit, sweetpakbroek ingesteek by sy kouse wat in ’n paar Crocs verdwyn.

Martin leef lig, maar hy lééf, hy oorleef nie net nie, ten spyte van die ongelooflike afsondering.

Die laaste stuk van die “pad” tot op Schrikkerivier kan jy nie eintlik ’n pad noem nie, dis meer ’n spoor oor ruwe klippe en deur etlike driffies. Dan, asof uit die niet, doem ’n kleinerige ooptetjie op waar jy tekens sien dat hier al ’n mens was.

Dis die kampplek wat ds. Barnard Steyn en sy vrou, Esté, jare gelede daar opgerig het. Intussen het ’n boom een van die woon­waens platgeval, maar die klein houthut (kombuis) en die ander woonwa staan nog.

Die Steyns het kort ná hul aankoms as her-derspaar op Joubertina met Martin kennis gemaak. Dit was meer as ’n dekade gelede en al het die Steyns intussen Bloemfontein toe ge-trek, is hulle steeds beste vriende met Martin.

Op Schrikkerivier is daar nie elektrisiteit nie. Daar is nie water in pype en krane nie. Daar is nie ’n voor die hand liggende opstal nie. Daar is nie ’n voertuig nie. Daar is maje-stueuse berge. Daar is bobbejane. Daar is luiperds. Daar is grotte. Daar is vars lug. Daar is silwer rivierwater. Daar is reuse-geelhout- en ander bome. Daar is ’n ooraanbod vars lug. Daar is lewe.

“Ek het ’n aap hier gehad. Ons was vriende. Man, hy het sulke knaterblou . . .”

Martin huiwer.

“Man, hy het sulke knaterblou knaters gehad. Tot op ’n dag, toe steel hy onverwags ’n tjop uit my hand en ek klap hom – dit was ’n outomatiese reaksie, ek het so sleg gevoel. Toe verdwyn hy. Ek het hom nooit weer gesien nie. Ek is so spyt,” sê Martin en slaan sy paar kykers, half boetvaardig, neer.

“Hierdie is ’n interessante wêreld, hierdie Kouga. Dis lekker wild. Ru. Nie toerisme-materiaal nie. Hier kom bitter min mense. Ek hou daarvan so.”

As hy of sy seun Tristan (23, en een van vier kinders) op die dorp wil kom, moet hulle die amper 30 km deur klowe en klippe stap. Ge-lukkig kry hulle deesdae gereeld lifts.

Martin het in 2001 dié plaas van 1 000 ha gekoop, nadat hy jare lank in ’n grot op ’n kleinhoewe by Clarens, ook ’n “heilige plek”, gebly het.

Dié plek moes hy verruil vir Schrikkerivier weens allerlei ­redes.

“Maar ek het vyf jaar gesukkel om daar weg te kom. Om my plek verkoop te kry. Clarens is deesdae so ’n k*k plek. Dis Sandton in the mountains,” sê hy en sy kyk vang een van die Kougaberge se verste koppe.

“Ek het wonderlike tye daar gehad. Met die Sotho-mense. Ons het music festivals gehou in die grot. Daar het so baie mense vir my kom kuier. Noem maar op – André P. Brink, Anton Goosen, Max du Preez . . . klomp mense. Vir 13 jaar het ek absolute bliss daar gehad.”

Tussendeur het Martin die wêreld vol ge- toer. Hy was in die 1970’s meer as ’n jaar in Afgani­stan – daar tussen die berge en in die dorpe en stede het hy die Afgane leer ken en gesien hoe “Rusland die plek opf*k”.

In Europa was hy ook. Bietjie meer as vier jaar het hy geswerf, was hy ’n nomade. Daarna het hy ’n jaar hier en ’n jaar daar gaan bly, maar altyd het hy teruggekom Clarens toe.

Na sy heilige grot toe. Kuns gemaak en verkoop. Totdat die dorpie ’n “suidelike voorstad van Johannesburg” geword het.

“Vir 20 jaar was ek beskikbaar vir mense. Nooit weer wil ek só beskikbaar wees nie. Hier op my eie, hier lewe ek lekker. Die lewe is eintlik fun. Dit kan k*k ook wees, maar dis meestal lekker,” grinnik hy deur sy grys baard.

Martin vertel hoe ’n buurman ’n paar jaar gelede ’n bosvark met sy pistool wou skiet. Nog in sy pajamabroek sukkel die buurman met sy pistool in die rigting van die vark.

“Hy het Parkinson’s gehad. Toe hy wou skiet, toe val sy broek af en hy skiet homself toe in die boud!” roggellag Martin en vou dubbeld.

Sy lewe lank bly hy só – weg van wat die samelewing as “normaal” sou beskryf. Hier op Schrikkerivier bly hy in ’n klei-en-tak-en-gras-huisie, slaap hy op ’n kateltjie onder ’n beesvel, bad so af en toe in die rivier, skilder en lees. Nou en dan kap hy vuurmaakhout.

Hy lees enige ding waarop hy sy hande en sy fletsblou oog kan lê. Sy ander oog is swart ná ’n ongeluk op ’n perd se rug, maar hy kan steeds deur hom sien, hoewel nie baie goed nie.

Sy aanhalings, kennis en staaltjies oor fi-losowe, digters, die mitologie is verbyste-rend.

“Ek lees nou die dag die mooiste vertaling van ’n gedig van Rimbaud [Arthur Rimbaud, ’n Franse digter in die 1800’s]. Hy skryf oor die anus, en dis vertaal as “purper angelier”. Dit is beeeeautiful! Dit turn my nou nie aan nie, maar dis beautiful!

Dis darem maar nice as iets nice­ is. Ek het dit gelees as kind, maar kon dit toe nie so mooi verstaan nie.”

Dié vertaling het hy in ’n Bitterkomix ge-lees, deesdae een van sy gunstelinggoed om te lees, al sukkel hy soms om dit in die hande te kry.

“Iemand het nou die dag vir my ’n pak ou koerante gegee. Ek dink ek trek nou by 2013.

“Ek lees ou Joost [van der Westhuizen] het probeer om die boek oor hom van die rak af te hou, maar die regter het gesê die boek moet rakke toe.

“Jy’t nie dalk vir my ’n paar koerante gebring nie? Jy werk mos vir ’n koerant,” sê-vra hy.

Martin is op die hoogte van wat in die wêreld buite sy paradys aan’t gebeur is.

Op sy radiotjie wat hy vir R60 gekoop het, luister hy RSG en BBC, al maak die “nuwe manier van political correctness” hom vies, om oor die gebrek aan goeie musiek oor die radio nie eens te praat nie.

Hy weet wat in die wêreld aangaan – die terreur, Olimpiese Spele en die dood van groot literêre figure, soos dié van sy vriend André P. Brink, wat hom “geruk” het.

Later die aand, terwyl brandende stompe so dik soos Bismarck du Plessis se bobene hitte en lig verskaf en die gefermenteerde vrug van die wingerd rojaal in kele gestort word, seg Martin vir Tristan aan om sy kitaar te gaan haal.

Met sy wit erdebeker wat in die vuurglans glim steeds in sy een hand, laat sak Martin sy bosbaard laag oor die buik van die kitaar.

Sy knobbelvingers vind akkoorde en sy hoë stem harmoniseer met die sissende simfonie van die brandende stompe. Die klanke klim die maanverligte kranse om ons uit. En die trane kom sit onwillekeurig in die hoeke van jou oë.

Ná die eerste song raak dit stil.

Ná ’n paar oomblikke van magiese stilte vra Tristan sag vir sy pa: “Oubie, is Eugène Ma-rais op daai kitaar?”

“Nie vanaand nie,” antwoord Martin.

“Is ‘Plaisir d’amour’ nie op daai kitaar nie,” waag Barnard ook.

“Nie vanaand nie,” antwoord Martin weer.

“Reëls is vir ander mense, nie vir my nie,” sê hy onverwags uit die bloute en stryk kierie in die hand aan in die rigting van die wyn.

En ’n Genesis 1-stilte kom sit om jou en in jou.

Join the conversation!

24.com encourages commentary submitted via MyNews24. Contributions of 200 words or more will be considered for publication.

We reserve editorial discretion to decide what will be published.
Read our comments policy for guidelines on contributions.
NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
PARTNER CONTENT
INFOGRAPHIC: New thinking required for retirement

Everything we believe about retirement is fast becoming outdated.

PARTNER CONTENT
WATCH: How education can change a life

A university education gives students the chance to create a better future for themselves, their families and to opportunity achieve their dreams.

/News

Book flights

Compare, Book, Fly

Traffic Alerts
Traffic
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.

Settings

Location Settings

News24 allows you to edit the display of certain components based on a location. If you wish to personalise the page based on your preferences, please select a location for each component and click "Submit" in order for the changes to take affect.




Facebook Sign-In

Hi News addict,

Join the News24 Community to be involved in breaking the news.

Log in with Facebook to comment and personalise news, weather and listings.