News24

'Dis Britte se skuld'

2001-01-19 12:06

Die feite oor Brittanje se beleid van verskroeide aarde tydens die ABO is oorbekend: die honderde plaashuise wat verwoes is, landerye wat vernietig is, veekuddes wat uitgeroei is.

En die meer as 26 000 Afrikaner-vroue en kinders sowel as die
20 000 swart vroue en kinders wat na raming in konsentrasiekampe gesterf het.

Binge wil in sy reeks programme weer kyk na die lyding van sulke onskuldiges wat in die pad van Britse imperialisme gestaan het. Maar hy wil ook probeer vasstel hoe die haat wat daardeur geskep is later selfs verhoudinge tussen die onderskeie rassegroepe in Suid-Afrika beïnvloed het.

Die lyding en vernedering van vroue was nie net tot die konsentrasiekampe beperk nie, vertel Binge. Hy het in sy navorsing in argiewe afgekom op beëdigde verklarings van Boervroue wat verkrag is voordat hulle na kampe gebring is. Meestal deur swart soldate in Britse uniforms. In een van die gevalle het 'n geboortesertifikaat bloot gelui dat die vader van die verkragte vrou se kind ''a black man named Sam'' was.

''Sulke voorvalle het verhoudinge tussen wit en swart in veral die Vrystaat vreeslik bederf,'' sê Binge.

''Die verhoudinge tussen wit boere, wat hul meestal op veeboerdery toegespits het, en swart boere, wat met hul saaiboerdery baie groter oeste as blanke landbouers gemaak het, was voor die oorlog goed.''

Hulle het dikwels saamgewerk. Maar die Britte het tydens die oorlog valse beloftes oor grond en politieke regte aan swart mense gemaak om hulle teen die Boere te mobiliseer. ''Gevolglik het sulke goeie verhoudinge agterna in wedersydse haat ontaard.''

Volgens Binge is dit nogal insiggewend dat gebiede soos dele van die Vrystaat en die voormalige Wes-Transvaal waar die beleid van verskroeide aarde op sy ergste was steeds die hartland van die regse politiek is.

Gebiede waar die gevolge van die ABO tot in 1994 nog gevoel is met gewelddadige regse weerstand teen die nuwe Suid-Afrika.

Binge glo voorts dat dit die moeite werd is om Afrikaners se behandeling van swart mense na die bewindsoorname van die Naasionale Party in 1948 teen die agtergrond van die ABO te ontleed.

''Hulle het 'n gedeelde ervaring van lyding met swart mense gehad, maar swart mense is na 1948 bykans op dieselfde manier behandel as wat die Britte die Boere behandel het.''

Miskien lê daar volgens Binge hierin 'n les vir die huidige regering wat ook die septer moet swaai oor wit mense wat skuldig was aan die vergrype van die apartheidsera.

Hy wil graag sulke debatte begin met sy programme. Hy wil nie ''al weer 'n ABO-ding'' vervaardig nie. ''Ons programme moet relevant wees vir vandag.

''Die ABO is so 'n belangrike stuk geskiedenis wat baie verduidelik van wat in die 20ste-eeuse Suid-Afrikaanse politiek gebeur het. Dit maak vandag nog sekere sentimente en emosies gaande.

''Omdat ek is wie ek is, is 'n Afrikaner-gehoor my prioriteit. Maar ons beplan ook 'n 'vlagskip-program' van sowat 90 minute in Engels vir M-Net wat ons hopelik oorsee sal kan verkoop.''

Dis volgens Binge baie belangrik dat die debat oor die ABO en veral die verskroeide aarde-beleid na oorsese lande uitgebrei word.

Die debat oor Nazi-Duitsland se doodskampe waarin sowat 6`miljoen Jode stelselmatig tydens die Tweede W&$234;reldoorlog uitgeroei is, is immers steeds in Europa aan die gang.

En Hermann Goering, die Nazi-kanselier Adolf Hitler se adjunk, het tydens die oorlog 'n baie eenvoudige antwoord gehad op 'n Britse ambassadeur se beswaar oor konsentrasiekampe vir Jode. Hy het 'n Duitse ensiklopedie nader getrek en gewys na die inskrywing vir konsentrasiekamp: ''Eerste gebruik deur die Britse magte in Suid-Afrika.''

'n Oorsese debat oor ABO-konsentrasiekampe is volgens Binge nodig na verlede jaar se bespiegelings in die Britse pers dat die ''onhigiëniese'' Boervroue wat hul siek kinders selfs vir dokters weggesteek het die blaam moet dra vir die verskriklike sterftesyfers.

''Dit kan ook help om uiteindelik duidelikheid te kry oor Britse regverdigings dat die kampe blote humanitêre maatreëls was om hawelose vroue en kinders te beskerm.''

Redenasies soos die klink volgens Binge vir die redelike mens na snert. ''In die Norvalspont-konsentrasiekamp is 12 mense ingehok in 'n enkele kloktent wat ontwerp is om vyf soldate te huisves.

''Elke tent het boonop slegs 'n enkele emmer water per dag gekry. Waarvoor sou jy die water gebruik het? Om mee te was of om mee te kook en te drink?''

Binge en sy span navorsers het byvoorbeeld 'n weerkundige opgespoor wat wetenskaplik kan bewys dat die winter van 1901 op een na Suid-Afrika se koudste van die 20ste eeu was - dieselfde ''Swart Oktober'' toe sterftesyfers in die kampe 'n hoogtepunt bereik het terwyl die Britse owerhede bitter min gedoen het om mense se lyding te probeer verlig.

Volgens Binge het hy en sy helpers reeds al die land se argiewe gefynkam vir foto's, dagboeke en briewe wat die lyding van burgerlikes tydens die ABO uitbeeld.

''Ons het al baie unieke foto's gekry. Ek is egter seker daar is nog talle dagboeke, briewe en familie-albums in private besit wat ons sal help om 'n vollediger prentjie te skets.'' Sodat hy vir mense kan wys hoe Afrikaners tydens die ABO verloor het. Hul kultuurskatte en 10% van hul bevolking. Maar ook hoe die land se swart mense geliefdes en besittings verloor het. En hoe Brittanje sy internasionale aansien ingeboet het. ''Ons wil uiteindelik wys dat niemand 'n oorlog wen nie,'' sê Binge.

''Dat absoluut almal verloor.''

Mense wat Binge kan help met veral visuele materiaal oor konsentrasiekampe en die verskroeide-aarde-beleid, word gevra om hom te bel by (021) 434`7237.

Beeld