Smullekker Sondagkos
2002-10-15 07:47
Dis
ekonomies en so maklik om te maak. Probeer dié twee resepte uit Landbouweekblad se
toetskombuis.
Geurige oondgebakte hoender en rys
Maklik en vinnig
om te maak, want die meeste bestanddele het jy in die koskas.
30 ml
kookolie
15 ml botter
sout, swartpeper en gemengde kruie
ongeveer 2 kg
hoenderstukke, skoongemaak
1 ui, opgekap
2 huisies knoffel, gekneus
2
soetrissies, rooi en groen, in repe gesny
250 g sampioene, in skyfies
gesny
375 ml rou rys
1 pakkie sampioenroomsop
750 ml warm
hoenderaftreksel (meer kan gebruik word, indien verkies)
Voorverhit die
oond tot 180°C en bespuit 'n diep oondskottel met kleefwerende
kossproei.
Verhit die olie en botter tot warm. Meng die sout, swartpeper en
kruie saam en sprinkel oor die hoenderstukke. Verbruin die hoenderstukke in
olie-bottermengsel, skep uit en hou eenkant. Braai die ui, knoffel,
soetrissierepe en sampioen-skyfies in die orige panvette vir twee minute.
(Indien nodig, voeg ekstra olie by.) Voeg die rys by en braai vir 'n verdere
twee minute.
Maak die sampioensoppoeier aan met 'n klein bietjie koue water
en klits die aftreksel daarby. Skep die rysmengsel en hoenderstukke in die
voorbereide oondskottel en giet die warm soppoeier/aftreksel daaroor. Roer
liggies deur, bedek met tinfoelie en bak in die voorverhitte oond vir sowat 80
minute tot die hoender en rys sag en gaar is. Pas die geur verder aan, indien
nodig.
Roer 'n lekker handvol gekapte pietersielie by net voor opdiening. Sit
voor saam met 'n groente van jou keuse.
Genoeg vir sowat ses mense.
Gebakte kakaopoeding
Die lekker sousie onderin maak eintlik die poeding!
60 ml botter, gesmelt
185 ml suiker
1 eier, geklits
5 ml vanielje
250 ml koekmeel
30 ml kakao
'n knippie sout
10 ml bakpoeier
185 ml melk
Sous
125 ml sagte bruinsuiker gemeng met
30 ml kakao
400 ml swart koffie
Stel oond op 180°C. Meng botter en suiker saam.
Voeg geklitste eier en dan geursel by. Sif droë bestanddele saam en voeg dit beurtelings met melk by bottermengsel.
Skep in gesmeerde bak. Sprinkel die bruinsuiker en kakao oor, giet die swart koffie versigtig oor en bak vir sowat 30 minute tot gaar.
Geniet warm, of louwarm, met vla of room.
Wenk: Sorg dat die vloeistof die deeglaag bedek.