Tydskrifbase soek Ilse-Mari
2002-08-21 07:49
Prikkelbase maak reeds planne om die lyf van Ilse-Mari van Big Brother II op die glansblaaie van hul tydskrifte te kry.
"Ek kan nie sien dat sy enige besware sal hê nie," het haar pa, Hennie, Dinsdag uit Witbank gesê.
"Ons staan nie met álles agter haar nie. Ons het ook sekere waardes, maar dit is háár lewe. Sy moet haar eie besluite neem."
Die redakteurs van Loslyf en Hustler het laat weet hulle het besluit om aan Ilse-Mari 'n aanbod te doen om naak vir dié tydskrifte te poseer en ook in een van hul seksvideo's op te tree.
"Ilse-Mari het alles waarna ons soek as model - sy is nie skaam nie, straal seksualiteit uit en haar optrede in die huis wys dat sy dit moontlik sal geniet om in een of ander hoedanigheid deel van 'n seksrolprent uit te maak," het Michael Green, redakteur van Loslyf, gesê.
"Ons het byvoorbeeld opgemerk dat sy daarvan hou om die objek van bewondering te wees terwyl die manne in die huis haar dophou."
"Die gewildheid van Big Brother II, asook die eerste reeks, draai definitief om seksuele spanning. Die gewildheid bewys dat daar baie mense is wat voyeurs is, al ontken hulle dit.
"Hoekom anders kyk soveel mense wanneer die inwoners van die huis stort, of laterig in die aand wanneer die inwoners 'n paar drankies in het en die moontlikheid van naaktheid en seks daar is? Ek hoop regtig dat Ilse-Mari ons aanbod sal aanvaar," het Green gesê.
Mnr. Neels Heystek, bemarkingsbestuurder van Hustler, het Dinsdag gesê Ilse-Mari het reeds hul stem as die wenner van die miljoen.
"Sy het daardie spesiale iets waarna ons soek en ons is bereid om met haar te onderhandel sodra sy uit die huis geskop word."