News24

Vinnige wildspastei

2002-06-26 11:58

Wildspastei

Kors gemaak van 1 pak klaargerolde blaardeeg

Vulsel

  • 2 kg wildsvleis (enige soort)
  • 500 g skaapvleis
  • 250 ml Coke
  • 100 ml kookolie
  • 2 uie, fyngekap
  • 1 groen soetrissie, opgekap
  • 2 tamaties, geskil en gesnipper
  • 250 g ontbytspek, gesnipper
  • 125 ml blatjang
  • 5 ml elk knoffelvlokkies en vars gemaalde swartpeper
  • 15 ml sout
  • 5 ml gemaalde koljander
  • 2 ml gemaalde naeltjies
  • 15 ml worcestersous
  • 75 ml suurlemoensap
  • 100 ml droë rooi wyn
  • 50 ml soet rooi wyn
  • 250 ml suurroom
  • 2 blikkies (285 g elk) gesnipperde sampioene, gedreineer (hou vloeistof)
  • 1 pakkie beesstertsop (60 g) aangemaak met 250 ml van die sampioenwater

Bolaag

  • 1 eiergeel
  • 50 ml water

Stel die oond op 200?C. Laat deeg in yskas ontvries.

Sny die vleis in 3 cm-blokkies en stowe dit dan in die Coke tot sag. (Hoewel die kola dit 'n mooi bruin kleur gee, is die vleis geneig om makliker aan te brand. Hou dus dop). Maak seker dat al die beentjies uit die vleis verwyder is.

Braai intussen die uie, soetrissies en tamaties effe saam in die olie en skep dit by die vleis. Braai die spekvleis liggies in dieselfde pan en voeg by die vleis.

Meng die res van die bestanddele goed saam en meng dit by die vleis. Prut net deur om geure te laat meng en skep in 'n vuurvaste pasteibak.

Rol die deeg uit, plaas bo-op vleis en druk die kante vas. Indien verkies, maak deegblare van die oorskiet deeg en rangskik bo-op pastei. Klits eier en water en verf oor die deeg.

Maak snytjies of druk gaatjies bo in deeg sodat stoom kan ontsnap. Bak 30 minute tot goudbruin.

Wenk: Vir 'n vinnige pastei, gebruik gaar fyn wildsvleis. Stowe oorskietbene met 'n stukkie varkspek in 'n bietjie vleisaftreksel totdat vleis loskom. Maak vleis fyn en bevries tot nodig.

Liplekker sjokoladerolkoek

Dodelik vir die figuur, maar as jy eers begin eet, kan jy nie ophou nie!

  • 4 groot eiers, geskei
  • 100 ml strooisuiker
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 60 ml koekmeel
  • 20 ml bakpoeier
  • 15 ml kakao
  • 'n knippie sout

Vulsel en versiersel

  • 1 blik (380 g) karamel
  • 2 stafies Cadbury's Flake-sjokolade
  • 125 - 250 ml room (vars of Orley-Whip)
  • 15 ml strooisuiker

Stel die oond op 180?C. Klits die eierwitte styf en hou eenkant. Klits die eiergele, strooisuiker en geursel saam tot lig en donsig. Sif die meel, bakpoeier, kakao en sout saam. Vou dit by die eiermengsel in. Vou laastens die eierwitte versigtig met 'n metaallepel in.

Giet die mengsel in 'n gesmeerde rolkoekpan van (20 - 27cm) wat met waspapier uitgevoer is en maak beslag gelyk bo-op. Bak sowat 10 minute lank. Keer versigtig uit op 'n klam doek wat met suiker bestrooi is. Trek die waspapier af. Rol die koek met die klam doek op en laat so afkoel. Rol weer die koek oop en verwyder die klam doek.

Klop die karamel effens en smeer oor die koek. Breek die sjokolade in stukkies en strooi die helfte oor die karamel. Rol die koek op. Klits die room en suiker saam tot styf en bedek die koek daarmee. Strooi die res van die sjokolade-stukkies bo-oor. Verkoel goed voor opdiening.

Landbouweekblad