'Voorstelle sal armoede vererger'
2002-08-22 10:41
Talle beleidsvoorstelle op die komende Wêreldberaad vir Volhoubare Ontwikkeling (WVO) sal nié volgehou kan word nie.
Boonop sal dit waarskynlik eerder armoede vererger as om vooruitgang te bevorder.
"Ware volhoubare ontwikkeling (VO) behels desentralisering van eienaarskap en beheer. Mense en gemeenskappe moet bemagtig word sodat hulle hul eie lewe beheer. Die hoofrede vir armoede en onvolhoubare ontwikkeling in Afrika, Asië en Suid-Amerika is onderdrukking deur onbekwame, gewelddadige en korrupte regerings en 'n gebrek aan eiendomsreg en regsoewereiniteit," het Julian Morris, direkteur van die Internasionale Beleidsnetwerk in Londen, Dinsdag gesê.
Morris is die redakteur van Sustainable development: promoting progress or perpetuating poverty wat Dinsdag in Sandton bekend gestel is.
In dié boek gee 17 kenners van vyf vastelande hul mening oor VO, ontleed bestaande vorms en bied alternatiewe.
Hy het gesê die begrip VO het sy ontstaan in die natuur sowat 30 jaar gelede. Toe het dit gedui op hoeveel hulpbronne jy kan onttrek terwyl jy verseker dat daar in die toekoms nog genoeg sal wees om verdere ontwikkeling te verseker.
"Maar hoe weet ons wat toekomstige generasies nodig gaan hê? Ons ken nie eens die huidige generasies se behoeftes nie. Boonop het verskillende groepe, soos bejaardes en jong mense, verskillende behoeftes. Mense maak soms buitensporige voorspellings oor wat die toekoms sal inhou, oënskynlik net om beleid te regverdig. Die punt is dat daar bitter min harde feite is wat dit staaf.
"Ons moet kyk na die uitwerking van die beperkings wat ons in dokumente stel en wat sal gebeur as ons sake net sy gang laat gaan."
Morris het gesê Agenda 21, die beleidsdokument wat opgestel is op die Aardeberaad tien jaar gelede in Rio de Janeiro, is 'n indrukwekkende dokument. "Maar dit het die uitgangspunt dat die behoeftes van die toekoms duidelik sal wees."
Volgens Morris is eiendomsreg fundamenteel tot VO.
"As mense grond besit, sal hulle dit oppas en daarin belê. Die onteiening van grond in Suid-Afrika onder apartheid is een van die ergste skendings van die reg op eiendom. Eiendomsreg gee mense bedingingsmag. Minstens 'n miljard mense wêreldwyd hou kwalik liggaam en siel aanmekaar, hoofsaaklik omdat hulle nie eiendom het nie.
"Verder moet mense vry wees om ooreenkomste te sluit omdat dit handel aanmoedig. En hulle behoort nie gebind te wees deur die kontraktuele idees van ander nie. Só moedig jy mense aan om entrepreneurs te word en bevorder jy ekonomiese groei.
"Dit lei uiteindelik tot beter gesondheid en 'n gesonder omgewing. As jy VO wil hê, moet jy die dinge bevorder wat mense beter laat lewe en ophou beperkings plaas."
Leon Louw, hoof van die Vryemarkstigting, het omgewingsdrukgroepe gekap en gesê hulle stel beleid voor wat die armes arm sal hou. "My raad aan lande soos Indië, Suid-Afrika en Nigerië is om die rykes hel toe te stuur."