“ONS moet met ’n groot meerderheid wen sodat ons groot verandering in hierdie land kan maak. As ons net met ’n klein persentasie wen, kan ons net ’n klein verskil maak.”
Só het president Jacob Zuma op Sondag 3 Julie aan gemeenskappe in Britstown en De Aar in die Noord-Kaap op sy besoek aan die gebied gesê.
Die ANC hoop vir ’n 70%-meerderheid in die provinsie.
Volgens Zuma is die ANC die enigste party in Suid-Afrika wat werklik verandering kan bring en is dit daarom belangrik dat die regerende party aan bewind bly.
“Elkeen van jul stemme is belangrik. As jy jou stem gebruik om vir hierdie (ander) partye te stem, is jy besig om jou stem te mors,” het Zuma gesê.
Die president het in ’n toespraak wat hy by die Nonzwakazi-stadion in De Aar gelewer het, gesê dat die ANC geen gelyke het nie en dat die party nie met enige ander party in Suid-Afrika vergelyk kan word nie.
Hy het vertel dat die party deur die mense van Suid-Afrika gevorm is om die land van apartheid te bevry en feite oor die ANC se geskiedenis opgenoem.
“Die volgende fase is om die land te herbou en die omstandighede en lewe van mense te verander.”
Volgens Zuma kan heropbouing alleenlik geskied as die ANC op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak aan bewind bly.
Hy het gesê dat ontevredenheid oor die ANC se kandidate sake is wat intern binne die ANC hanteer moet word, maar nie in die pad van die ANC se mars na oorwinning moet staan nie.
Zuma en ander ANC-leiers, soos Nomvula Mokonyane, die minster van water en sanitasie, en Tina Joemat-Pettersson, die minister van energie, het die naweek die Noord-Kaap besoek om stemme vir die plaaslike verkiesing wat in Augustus vanjaar plaasvind, te werf.
Mokonyane en Joemat-Pettersson het op Saterdag 2 Julie taxi-staanplekke in Hartswater en Pampierstad in Zuma se afwesigheid besoek, asook ’n gemeenskapsvergadering by ’n laerskool in Jan Kempdorp.
Zuma het dié dag die Durban July bygewoon en kon nie sy presidensiële besoek nakom nie.
Die Sondag het hy ’n kerkdiens by die AGS-kerk in Britstown bygewoon waartydens hy onder meer gesê het: “Bid vir diegene wat in beheer van die land is, want God het hulle met ’n doel in beheer van die land geplaas.”
Hy het daarna van deur tot deur in die Mziwabanthu-woongebied (wyk 7) in Britstown geloop en met plaaslike kerkleiers vergader.
Tydens die besoek aan Britstown het inwoners, soos Nicolene Arnolds, veral gekla oor ’n wesenlike gebrek aan werkgeleenthede in die dorp, asook probleme met sanitasie.