Die ontwrigting wat slaggate in Kuruman veroorsaak het ná die afgelope tyd se goeie reën het nog meer ondraaglik vir inwoners geraak. Talle mense is ontstoke omdat hul voertuie baie skade op die paaie opdoen.
Volgens David Mabudi, kommunikasiebeampte van die Ga-Segonyana-munisipaliteit, het die munisipaliteit in Oktober verlede jaar al met ’n veldtog begin om herstelwerk aan die paaie te doen.
Daar is reeds in verskeie strate met herstelwerk begin, maar die reën het die proses vertraag, sê Mabudi.
“Ons het ’n skedule waarvolgens ons werk en ons moes al klaar gewees het, maar weens onvoorsiene omstandighede moes ons van die tydlyn afwyk,” sê Mabudi.
Hoewel strate in die middedorp en woonbuurte soos Wrenchville reeds herstel is, is daar dele wat nog baie sleg lyk.
In Ds. Van Jaarsveldstraat, Barendstraat en Poolmanstraat is die slaggate diep en moet motoriste stadig en met draaie ry om hierdie slaggate te vermy.
Mabudi het inwoners gevra om geduldig te wees, omdat die munisipaliteit reeds besig is met herstelwerk.