Danksy Kelrn se jaarlikse MTB Classic-bergfietswedren wat einde verlede jaar by hul perseel buite Barkly-Wes gehou is, kon meer as R400 000 vir liefdadigheid ingesamel word.
Die geld is onlangs in Kimberley aan die begunstigdes – die Jannie Roux-kampus, Tsholofelo-kampus, Christina Kiddie-kindersentrum, Building a Future, Caritas en die Makarios-kinderbediening – oorhandig.
“Dié geld gaan vir ons vroeë kinderontwikkeling en terapiesentrums gebruik word,” het ds. FD Hugo van Caritas gesê.
Building a Future gaan dit vir sy nuutgeboude jeugsentrum se vloer en toiletgeriewe gebruik.
Christina Kiddie se industriële wasmasjien het drie maande gelede gebreek en die geld gaan daarvoor gebruik word.
“Dit is ’n wonderlike ding wat Kelrn elke jaar doen,” het Freda Meiring van Christina Kiddie gesê.
Die Jannie Roux- en Tsholofelo-kampus huisves onderskeidelik 80 en 20 kinders in Barkly-Wes en Daniëlskuil, terwyl Caritas baie goeie werk in die gemeenskap verrig.
Building a Future help nie net jong kinders en matrikulante nie, maar omdat daar in die afgelope 20 jaar soveel kinders deur hulle gevorm is, leer hulle daardie kinders om op hul beurt weer ander kinders deur dié projek te help.
Makarios se visie is om kinders aan die Bybelse perspektief in die lewe bloot te stel. Hul hoofkantoor is in Georgia, Amerika, en van die 100 lande waar hulle werk, is 30 in Afrika.
Een van hul takke is buite Barkly-Wes waar Bybellesse, wat in 140 tale vertaal is, vir kinders gedruk en gepos word. Daar is in 2015 meer as 28 miljoen sulke Bybellessies gedruk en na meer as 2,3 miljoen kinders versprei.
Die Christina Kiddie-kindersentrum huisves 28 kinders. Hulle lê hulle toe op die totale versorging van sorgbehoewende getraumatiseerde kinders.
“Ywerige borge en toegewyde personeel is die sleutel tot die sukses van hierdie projek. Ons is oneindig dankbaar vir elkeen se bydrae – klein of groot,” sê Kenne de Kock van Kelrn Vervoer.
Dit was die vierde agtereenvolgende jaar wat dié onderneming die bergfietswedren aangebied het. Daar is van so ver as Pretoria en Kaapstad borgskappe ontvang.