DIE natuurlewe-waterverfskilderye van Corinne Erasmus, ’n kunstenaar wat in Kimberley grootgeword het, word gedurende die Gariep Kunstefees uitgestal. Die fees word vanjaar van 1 tot 4 September gehou.
Die uitstalling, Wildlife in Watercolour and Pen, sal in die William Humphreys-kunsgalery te siene wees.
Erasmus se passie vir natuurtonele is reeds op ’n vroeë ouderdom gevestig. Sy het in die Diamantstad grootgeword en het moontlik haar liefde vir die natuur by haar ouers, albei bioloë, geërf.
Erasmus se werk vang haar bewondering vir Suid-Afrikaanse wildlewe in waterverf en pen vas.
Deur ongewone komposisie word haar natuurstudies in ’n prettige lig uitgebeeld, terwyl dit die kyker ook die geleentheid bied om die aandag aan detail in haar werk van naderby te beskou.
Die opening van die fees en kultuuruitstallings word op Woensdag 31 Augustus gehou. RSVP voor 24 Augustus. Almal is welkom.
Skakel 053-831-1724/5 vir meer inligting.