’n Haaiwagter, soos Dr. Hook, word vir Jeffreysbaai se strande gesoek.
Die Australiese branderplankryer Mick Fanning, se noue ontkoming Sondag met ’n haai by Supertubes het gelei tot die skep van ’n tydelike pos vir ’n haairoeper in die Kouga-munisipaliteit.
Dinsdag sou ’n werknemer, wat uit ’n hoë toring oorkant Dolfynstrand oor die wyd uitgestrekte kus van Jeffreysbaai uitkyk, vir haaiwagdiens aanmeld.
Maar toe val alles deur die mat.
“Ons het beoog om ’n bekende man, wat slegs as Dr. Hook aan ons bekend is, aan te stel, maar hy is glo oorlede,” verduidelik Laura-Leigh Randall, woordvoerder van die Kouga-munisipaliteit.
Dr. Hook is glo deur plaaslike inwoners geken as die man wat kon sien wanneer gevaarlike haaie naby is. “Dit was nooit ’n amptelike werk nie. Die man het dit uit die liefde vir die saak gedoen,” sê Randall.
Sy kennis van haaie, wat hy blykbaar in Durban opgedoen het, het gehelp om die haaie wat té naby aan die strand draai, uit te ken.
Tog lyk dit nou of Dr. Hook se haai-kundigheid moontlik ’n nalatenskap het.
“Daar is blykbaar ’n man wat altyd saam met Dr. Hook gewerk het. Die vriend het glo alles wat hy weet by Dr. Hook geleer – en dit is die man na wie ons nou soek.”
Randall meen Dr. Hook se “haai-vriend” sal die geskikte kandidaat vir dié pos wees, aangesien daar nie nou tyd aan opleiding afgestaan kan word nie.
Randall beskryf ’n goeie haaiwagter as iemand wat deeglike kennis van haaie, die see, plaaslike omgewing en noodhulp het.
“Indien gevaar dreig, moet die haairoeper ’n vlag op die hoofstrand hys en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) inlig om waarskuwingsvlae op die ander strande te hys.”
Die haaiwagter sal deur die munisipaliteit betaal word, maar Randall beklemtoon dat dit slegs ’n korttermyn-aanstelling sal wees, tot die raad permanente maatreëls gereed het.
“Die gebruik van haainette en robotvliegtuie is van die moontlike tegnieke wat teen haaigevaar ingespan sal word,” sê Randall.
Terwyl amptenare soek na Dr. Hook se handlanger, wat hopelik sy opvolger sal word, sal ’n plaaslike menseredder of NSRI-vrywilliger tydelik instaan.