ANDREW Melville (31), ‘n opkomende sanger en liedjieskrywer wie se tweede enkelsnit, Java Jive, pas vrygestel is, is beslis ‘n kunstenaar om dop te hou.
Andrew het reeds van jonks af ’n liefde vir musiek ontwikkel, tog het roem nie vinnig gekom nie. Dit was eers later in sy lewe dat die musiekgogga regtig gebyt het.
Andrew, wat gereeld vir sy ma se vrien-dinne moes sing, het van graad 1 tot graad 3 in die skoolkoor gesing, maar dit toe opgegee want hy was bang sy vriende lag vir hom - veral in die hoërskool.
Tog het hy nooit van sy sanger-droom vergeet nie. Eers jare later, toe hy al gewerk het, het sy droom ’n werklikheid geword.
Sy eerste optrede voor ’n gehoor was tydens ’n konsert by die Thornhill-hotel in 2014, waar hy die gehoor met bekende treffers gaande gehad het.
Sedertdien was daar geen stop nie.
Die een optrede na die ander het gevolg. Met sy nederige, energieke en warm verhoogpersoonlikhied wen hy menigte harte.
Hy spog vandag met een album, Having Fun, en twee enkelsnit CDs, Pret Pret Pret en Java Jive.
Having Fun bevat 15 bekende Afrikaanse en Engelse liedjies. Andrew het Pret Pret Pret en Java Jive self geskryf en getoonset. Dié twee liedjies is van die top liedjies op Goue Drome Promosies Top 10 en Springbok Internet Radio Top 20.
Andrew is plat op die aarde en nederig, maar hy is passievol oor musiek. Die passie, saam met sy rou talent, is duidelik in sy musiek te hoor.
Wat geniet hy die meeste van sing? “Wanneer ek sing kan ek myself wees. Ek kan myself van die buitewêreld afsluit en my gevoelens uitdruk.”
Andrew, wat twee keer ’n week spesiale tyd het om te sing, droom daarvan om ’n bekende Suid-Afrikaanse sanger te wees.
“Ek glo met harde werk, kan ek my droom bewaarheid, maar ek sal nooit vergeet van-waar ek gekom het en wie my gehelp het nie. Ek sal altyd terugkeer na waar alles vir my begin het,” sê hy.
Andrew se gunsteling sangers is Elvis Presley, Pink Floyd, die Rolling Stones en Nirvana. Musiek wat nie heeltemal in sy smaak val nie, is rap en R&B.
Wanneer hy nie sing of werk nie, geniet hy dit om televisiereekse te kyk en om speletjies op die televisie te speel. Hy het ook ’n groot liefde vir motors.