TERWYL die boere in die Gamtoosvallei in die huidige seisoen ’n suksesvolle oes verwag, hang ’n skaduwee oor wat die volgende seisoen inhou, aangesien die Kougadam tans net 10% vol is.
Volgens Petrus du Preez, voorsitter van die Gamtoos-boere-vereniging, verloop die oes vir vanjaar nog goed en het die meeste boere nog genoeg water in die kanale om die oes deur te sien.
“Die groot uitdaging kom egter volgende seisoen wanneer die nuwe waterbepalings intree,” sê Du Preez.
Die meeste van die boere in die vallei is van besproeiingswater afhanklik. Nuwe waterkwotas sal op 1 Julie in werking tree nadat die Gamtoos-besproeiingsraad en die departement van water samesprekings oor die geskikte waterbepalings gevoer het.
Met die Kougadam, die besproeiingsdam, tans 10,26% vol, lyk die vooruitsig van waterkwotas kommerwekkend, sê Du Preez.
“As daar net 10% water is, is daar net 10% om uit te deel.”
Met ’n kleiner waterkwota sê Du Preez dit is vanselfsprekend dat boere op kleiner skaal sal plant, wat dan ’n heelwat kleiner oes in die volgende seisoen sal beteken.
“Die opsies is baie beperk. Maar vir nou slaap ons eers gerus en werk solank aan ’n plan B en C.”
Die Churchilldam is tans 18,08% vol en die Impofu- en Groendaldam onderskeidelik 36,55% en 48,11% vol.
Met geen noemenswaardige reën wat voorspel word nie, verg dié damvlakke dat inwo-ners, sakelui en ander belanghebbendes hulle opnuut daartoe verbind om water te bespaar.