Oos-Kaapse skole sal eersdaags moet sê hoe hulle die geld aanwend wat hulle vir die instandhouding van skoolgeboue van die onderwysdepartement kry.
Themba Kojana, hoof van die Oos-Kaap se departement van onderwys, sê hy stuur binnekort ’n ondersoek van stapel om vas te stel of dié geld vir skole te min is, soos wat hoofde sê, en of dit bloot vir ander uitgawes gebruik word.
Elke openbare skool ontvang ’n jaarlikse toelae van die Oos-Kaapse onderwysdepartement om onder meer geboue op te knap en enigiets van vensters tot skarniere te herstel.
Dié instandhoudingstoelae is 20% van ’n skool se begroting.
Beheerrade, hoofde en ouers sê dié geld is te min en hulle moet dikwels self opdok vir uitgawes soos die herstel van waterpype.
“Skole word gefinansier vir dit wat hulle nodig het volgens die standaarde waaraan elke skool moet voldoen,” sê Kojana.
“Juis daarom mag ons ’n skool nooit onderfinansier nie. Een van die goed wat ek beslis wil vasstel, is wat skole met elke sent van dié geld doen. Ons stel nou duidelike riglyne op om te verseker dat hoofde daarby hou. Skole sal ook voortaan geoudit word.”
Kojana wil ook ondersoek instel na die besteding van die Oos-Kaap se begroting vir infrastruktuur.
Die provinsiale skolebouprogram is deur elke provinsie ingestel en is gerig op die verskaffing van basiese dienste, nuwe skole, aanbouwerk aan bestaande skole, opknapping en instandhouding. Dit word deur die onderwysinfrastruktuurtoelae en uit die provinsiale begroting gefinansier.
In 2016 het die Oos-Kaap dié begroting onderbestee, terwyl talle skole nog onder meer puttoilette gebruik het en sonder elektrisiteit of water moes klaarkom. Honderde skole is ook steeds op ’n waglys om opgeknap te word.