DIE stof wil maar nie gaan lê oor allerhande probleme op die dorp nie.
Daar word gevra: Is dit werklik ’n dorp van drome . . . of van nagmerries? Want hoewel die natuurskoon aanloklik is, word daar nie veel gedoen om alle woongebiede skoon te hou, te beveilig, grootskaalse waardering te betoon teenoor private groepe werkers, of (veral tussen Jeffreys en Astonbaai) enigsins iets aan die morsige dorpsgrond en rondloperdiere nie.
’n Tragedie het afgespeel toe Piet en Donald Smit se babadogter in hul huis in die informele nedersetting naas Jeffreysbaai doodgebrand is. Dit sou verlede week haar tweede verjaardag gewees het.
Quintin Kruger het twee foto’s op sosiale medium geplaas oor die gevaar wat bossla-pers in die dorp inhou. Tydens ’n ondersoek na inbrake op die dorp, is areas besoek waar bosbewoners hul eie klein slaapplekkies inrig. Tydens dié operasie is ’n blou geldsak vol verskillende soort sleutels en gebreekte slotte gevind.
Die publiek word gewaarsku dat dié sleutels gebruik kan word om toegang tot huise te probeer kry. Inwoners van die dorp word aangeraai om “polisieman-slotjies” in die deure se sleutelgate te plaas as addisionele beskerming. Sterk staal-veiligheidsdeure, kettings en skuiwers is ook nie te versmaai nie.
Jenny Stokes sê op FB dat die areas rondom die dorp vuil is. So ook die kloof. Rommel lê langs die ingangspad na die dorp. Op een plek in Kabeljous lê daar glo al twee jaar lank swart sakke en rommel. Dit was altyd ’n ontspanplek, maar dit wil voorkom asof algemene traak-my-nie-agtigheid die dorp se beeld skade aandoen.
Meyreen Barnard Fannin wys op ’n ander euwel. Sy raai inwoners aan om hul begin- en eindlesings van water- en elektrisiteitmeters self te lees. Hulle wag steeds op ’n antwoord oor ’n feitlik onmoontlike lesing wat op hul rekening aangedui is. Sy betreur die toestand van die dorp, omdat daar ook baie oorsese toeriste hier aandoen en oorbly. Bome word ge-sny en die takke net daar gelaat, en in Mimosastraat lê die rommel onaangeraak.
Van bestuursvernuf moet liewer nie gepraat word nie. Verkeersreëls by groot en minisirkels is in Babelse verwarring gehul, en vir enige inwoner of besoeker wat ernstig is oor padgebruik, is dit duidelik dat dit ’n skynbaar ’n misdaad is om by ’n stopteken tot stilstand te kom.
Iemand vra: “Hoe lyk dit, DA? Die eerste honderd dae is mos al hoeka verby!”